BIBLE, GENDER, SEXUALITY: REFRAMING THE CHURCH’S DEBATE ON SAME-SEX RELATIONSHIPS
Deur: James V Brownson
Uitgegee deur: Eerdmans, 2013
Die boek, Bible, gender, sexuality: Reframing the church’s debate on same-sex relationships van die Amerikaanse gereformeerde teoloog, James Brownson, kan myns insiens ’n betekenisvolle bydrae lewer tot die voortgaande besinning oor selfdegeslagverhoudings in kerke dwarsoor die wêreld.
Die skrywer doen sy bes om ’n billike voorstelling te gee van albei kante (die sogenaamde “tradisionele” en “revisionistiese”) in dié uiters gepolariseerde debat. Hy vermy die gevaar van ’n simplistiese opstelling van “fundamentaliste” teenoor “liberaliste” en gee erkenning aan die feit dat daar aan albei kante van die debat erns daarmee gemaak word om te probeer om nie net te verstaan wat Bybeltekste sê nie, maar ook wat dit vir Christene vandag beteken.

Hy doen ’n noukeurige analise van die relevante Bybelse tekste en probeer aandui waar die punte is waar die huidige debat geneig is om vas te val.
Sy benadering is om deurgaans te vra na die “morele logika” onderliggend aan die Bybelse gegewens in ’n poging om te verstaan waarom die Bybelskrywers hulleself op ’n bepaalde manier uitgedruk het.
In die proses ontleed hy sleutelkonsepte wat van belang is vir die verstaan van die Bybeltekste, en gee uitvoerig aandag aan aspekte soos patriargie, komplementariteit, reinheid/onreinheid, eer/oneer. Die beslissende vraag wat hy deurgaans vra, is op welke wyse konsepte soos hierdie die eietydse “morele logika” in die beoordeling van etiese vraagstukke bepaal.
Die skrywer se gevolgtrekkings gaan nie noodwendig die instemming van almal geniet nie. Ek dink egter sy benadering kan ons almal help om op ’n vars manier na die kwessie van selfdegeslagverhoudings en die Bybelse perspektief daarop te kyk. En wie weet, dalk dra dit daartoe by om die gevaar van ’n dooiepunt in die gesprek te ontkom.
▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.