WORKING THE ANGLES
Deur: Eugene Peterson
Uitgegee deur: Eerdmans
As ek een boek moet uitsonder wat ’n impak gemaak het op my bediening, is dit Eugene Peterson se Working the angles. Dit is nie die beste boek wat ek al gelees het of die mees insiggewende nie, maar dit het gekom as ’n antwoord op ’n vraag wat ons dominees onsself moet vra.
Ek was op ’n retraite vir dominees – meer as twintig jaar gelede – en ons het ’n hele oggend gekry om in stilte voor die Here hierdie belangrike vraag te antwoord: Wat is jou taak as dominee? Ons moes die vraag in een sin antwoord met slegs een werkwoord daarin.
Ek het my reggemaak om die antwoord binne ’n minuut of twee te kan neerskryf, maar het uitgevind dat nie een van die sinne wat ek in ure se worstel kon neerskryf ’n goeie en volledige beskrywing van my bediening kon gee nie. Daar was altyd ’n klomp belangrike take wat nie gedek is nie.
Ek het ’n toertjie probeer uithaal: Skep kategorieë van take in die bediening en groepeer hulle as groter kategorieë om te sien of dit nie kan uitmond op een plek nie. Niks het gewerk nie. Ek het na ’n oggend se gestoei vir die eerste keer regtig begin besef hoe gefragmenteerd en onsamehangend my bediening was.

Toe lees ons die middag Peterson se boek en daar kom ’n “Aha!”-oomblik wat die res van my bediening ingrypend beïnvloed het. In die inleidende hoofstuk sê Peterson dat ’n dominee se werk nie is om ’n gemeente te bestuur nie (“running a congregation”), maar om mense se aandag op God te vestig. Dít, sê Peterson, moet alles wat ek doen bepaal en my prioriteite uitspel.
Om die soort mens te word wat dit kan doen, sê Peterson daarna, het ek drie groot persoonlike dissiplines nodig. Hy wy die res van die boek daaraan: Ek moet deurdrenk word met die Woord. Ek moet gebedsdissiplines kweek – en dit sluit sabbatsrus in. Ek moet geloofsbegeleiding (“spiritual direction”) ontvang en self ook mense begelei op hulle geloofspad.
Ek het daarna baie boeke gelees wat goeie dinge sê oor al die aspekte wat Peterson aanraak, maar ek sal steeds vir dominees aanmoedig: Lees die boek! Jy sal nie jammer wees nie.
▶ Dr Breda Ludik is predikant van die NG gemeente Helderberg.