Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Nuwe lewe

Eers swel die punte van die kaal takke ongemerk, dan begin klein stukkies groen deur klein skeurtjies te loer, en kort voor lank is die boom in ’n ryk, groen blaredos geklee.

So kom die lente op baie plekke. Lente. Die natuur se seisoen van nuwe lewe.

Vir gelowiges moet dit meer wees as net nog ’n nuwe seisoen. Lente eggo immers die hart van die evangelie: Nuwe lewe!

Hierdie nuwe lewe het soveel kante. Daar is vooruitsig om vir altyd by God te wees, maar daar is ook nuwe lewe hier en nou op die aarde wat God gemaak het.

Party mense beleef die nuwe lewe in die wegdraai van skadelike gewoontes soos dwelmmisbruik of misdaad. Vir ander kom dit in herstelde verhoudings of die oorwinning oor onreg. Daar is diegene wat dit beleef in een of ander uitkoms uit onmenslike armoede.

God gee lewe op soveel maniere.

Hy gee dit ook deur die lug wat ons inasem, die water wat ons drink. Daarom pas dit in hierdie seisoen van nuwe lewe, om te dink oor die omgewing wat God vir ons gemaak het om in te lewe.

Miskien is dit die beste seisoen vir ’n erediens waarin ons die omgewing vier en waarin ons besin oor dit wat hierdie omgewing bedreig – waarvan die onversadigbare verbrui­kersmentaliteit om ons een van die groot sondaars is.

Dalk is nou die regte tyd om iets prakties te doen om die omgewing te help heel word. Daar is gemeentes wat al ’n rivier gaan skoonmaak het.

Dalk is die belangrikste om ’n lewenstyl aan te neem wat ligvoets oor die aarde stap, om so te leef dat dit nie ons omgewing ooreis nie.

Die bome wat in die lente uitloop, gaan later vrug dra. En goeie bome sal goeie vrugte dra. Dit is die beeld wat Jesus gebruik om te praat oor hoe mense leef. Mag ons as gelowiges ook, in die manier waarop ons in ons omgewing leef, goeie bome wees.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top