Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Keuses bring nuwe verstaan …

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Om te verhuis, is geen maklike taak nie! Sommige mense sê die woordjie “trek” is kort en kragtig, maar as jy dit moet uitvoer is dit ’n totaal ander saak. Ek moes onlangs verhuis en kan eerstehands van hierdie moeisame en uitputtende taak getuig.

Trek is nie vir die fyngevoeliges of sensitiewes nie. Dit vra deursettingsvermoë, goeie beplanning asook ’n duidelike, nugtere en realistiese benadering. Terwyl jy inpak, en ook later weer uitpak, moet jy voortdurend keuses maak. Is hierdie item wat jy saamneem werklik nog doelmatig? Moontlik kan ek nie sonder die artikel wees nie? Of wil ek dit maar bloot uit sentiment behou? Moet ek nie dalk nuut begin dink oor sekere dinge in my nuwe omgewing nie? Of wat is dit waarsonder ek nie wil trek nie? Gewis is daar items waarsonder ek glad nie wil wees nie.

Terwyl ek vandag rustig uitkyk oor my nuwe tuin, wonder ek of dit nie ook tog waar is van die kerk van vandag nie? Ons oordink tans die hele verstaan van missionale transformasie, asook die vraag na sinvolle leierskap in ’n nuwe konteks.

Wat is dit wat ons nie uit die oog moet verloor nie en waarsonder die kerk nie vorentoe kan beweeg nie? ’n Diep, persoonlike en lewende verbintenis aan Jesus Christus is ononderhandelbaar op hierdie reis.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/09/Nuutverkose-moderator.jpg” caption=”Dr Hugo van der Linde is moderator van die Hoëveldsinode.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Met brandende harte kan ons soekend vra na waar God reeds aan die werk is en hoe ons daarby kan aansluit. Dit moet die kerk neem na buite sy mure. Op die markplein waar die lewensvrae eerlik gevra word en antwoorde gesoek word.

Alan Roxburgh (2011) sê: “If you want to discover and discern what God is up to in the world just now, stop trying to answer the question from within the walls of your churches.”

Die evangelie gaan oor verhoudings. Wedersydse en respekvolle verhoudings vorm ’n netwerk waarbinne mense by mekaar leer, ervarings deel en nuwe moontlikhede soek. Respek, nederigheid en inte­griteit is beginsels wat uitgeleef moet word.

“Net soos wat die drie-enige God in verhouding bestaan, kan daar nie aan die kerk en leierskap in die kerk gedink word sonder om aan verhoudings te dink nie. Dit is deel van die DNS van die kerk,” sê Nelus Niemandt (2013). Egtheid is die kern van ons verhoudings.

Op ons reis na ’n nuwe verstaan sal ons moed aan die dag moet lê. Met waagmoed sal ons die onvoorspelbare toekoms tegemoet moet gaan, liminaliteit omhels en in geloof dag na dag vorentoe tree.

Hierdie beweging vra buitengewone leierskap. Kerkwees is hierin die groot avontuur en bring ons tot nuwe ontdekkings. Met verantwoordelikheid moet ons waag sodat ons met kreatiwiteit nuwe insig en visie kan ontvang. Kom ons open die skynbaar onmoontlike gesprekke en vra die moeilike vrae.

Eiewaan, liefdeloosheid, beheptheid met ons eie agendas, misplaaste ambisies en onvolwassenheid kan gerus maar agterbly terwyl ons nuwe terreine betree. Die inpak- en uitpak-proses gaan ons onwillekeurig voor keuses plaas. So sal die kerk ’n missionale avontuur wees!

Dr Hugo van der Linde is moderator van die Hoëveldsinode.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top