Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Stefaan de Jager van Humansdorp skryf:
Die Prediker sê dat daar niks nuuts onder die son is nie. Die geskiedenis herhaal homself. “Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie” (Pred 1:9).
Vir baie jare het ons in die NG Kerk apartheid op grond van die Skrif probeer regverdig en dit selfs Christelik-Nasionaal genoem.
Die regverdiging was gewoonlik op bedenklike teologie gebou waar die Skrif verdraai is om die apartheidsaak te dien.
So onthou ek hoe ’n dominee in die destydse Oos-Transvaalse Sinode die Drie-eenheid “ingespan” het. Sy argument het daarop neergekom dat, soos wat daar in die Goddelike Drie-eenheid ’n onderskeiding tussen die Goddelike drie Persone is, ons ook die onderskeiding van mense in aparte ontwikkeling kan regverdig.
Lyk nie of die kerk geleer het nie, want so herhaal die geskiedenis homself verlede jaar met die Algemene Sinode se besluit dat selfdegeslagverhoudings reg en goed is. Tot op hede probeer die voorstanders hiervan, soos met apartheid destyds, hul argumente op eweneens bedenklike teologie bou.
Die Skrif word verskraal waar God se liefde losgemaak word van sy heiligheid. “Liefde” is die groot woord, want sien, solank paartjies net in liefde en trou teenoor mekaar leef, is homoseksualiteit goed en reg. Of die Here in sy Woord iets sonde noem maak nie saak nie, solank die “liefde” alles omarm, heilig die doel die middele.
God se heiligheid oor wat reg en verkeerd is word van die tafel gevee waar die knie gebuig word voor ’n soort liefde waar alles uit en deur en tot die mens is. Die groot begrippe is menswaardigheid, maak nie saak of ons God-onwaardig lewe nie.
Apartheid en selfdegeslagverhoudings het een ding in gemeen. Nie een van hulle deurstaan die toets van die Skrif nie.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
