Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit sal jou denke stimuleer

WAT WAG OP ONS NA DIE DOOD?
Deur Fika van Rensburg en Marius Nel
Uitgewer: CUM (2016)


Toe ek op Stellenbosch was om daar kliniese pastoraat te studeer, het ons ’n afdeling gehad met die benaming tanatologie – die bestudering van dood en sterwe. Vanselfsprekend het dit by ons meer vrae opgeroep as wat ons antwoorde gekry het.

Nou is dit deesdae my pastorale verantwoordelikheid om mense te bedien vir wie juis hierdie vraag­stuk­ke in die lewe al hoe belangriker word. Genoeg rede vir my om ’n boek soos hierdie aan te skaf en te lees.

Wat egter my oog gevang het op die winkelrak, is die twee medeskrywers van die boek: (prof) Fika van Rensburg, Nuwe-Testamentikus en vandag rektor op Potch, skryf hierdie boek saam met (dr) Marius Nel, AGS-pastoor op Polokwane. Maar sê dadelik daarby dat Marius pas sy vierde doktorsgraad behaal het!

lees-die-boekHierdie laaste opmerking is dalk genoeg om jou te laat besef dat ons hier met geen gewone stigtelike lees­stof te doen het nie. Moet veral nie die boek se subtitel miskyk nie: Sie­nings van die antieke tyd tot vandag bekyk vanuit ’n Bybelse perspektief.

Weliswaar handel die eerste hoofstuk oor wat die Ou Testament oor lewe-na-die-dood sê (of nie sê nie) en die laaste hoofstuk (minder as veertig bladsye) oor wat ons in die Nuwe Testament daarvan lees. Tussen-in is daar egter ’n baie uitvoerige beskrywing van hoe daar oor tyd en wêreld gedink is by die ander volke en beskawings rondom Israel. Die skrywers is trouens van mening dat veral Zoroaster se leerstellings ’n groot invloed gehad het op die Joods-Christelike denke.

Die apokaliptiek word breed uitgemeet as die on­ont­beerlike agtergrond van die Nuwe-Testamentie­se toekomsverwagting. Jesus leef en dink vanuit ’n apokaliptiese wêreldbeeld.

Oor die werklike opstanding van Jesus in ’n nuwe liggaam is daar by die skrywers geen twyfel nie. Die graf was op die derde dag leeg. So sal gelowiges ook met die wederkoms van Christus herkenbare nuwe liggame ontvang, hoewel dit dieselfde karakter, geheue en persoonlikheid sal hê. Geheue?!

Koop en lees gerus hierdie boek. Dit sal nie al jou vrae beantwoord nie, maar jou denke stimuleer en jou geestelik verryk.

Dr Louis Louw (emeritus) is nog deeltyds gekoppel aan Pretoria-Oosterlig.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top