Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
As kind, wanneer ons langpad ry en ek moeg word, het ek op my knieë op die agterste bank gaan staan – dit was voor verpligte veiligheidsgordels – en deur die agterruit gekyk hoe die pad verbygaan. Behalwe dat dit my gehelp het met my sat-gery-wees, het ek ook ander goed langs die pad nuut raakgesien, goed wat anders lyk as wanneer ek deur die voorruit kyk.
Iets hiervan wil ons by die KZN-sinode, 10-13 Oktober, doen. In 2012 het die KZN-sinode die sinode-fokus In Christus saam op pad geformuleer. Vier jaar lank het ons nou hierdie fokus prakties gemaak – soms met moeite op die sinkplaat-afgrond stukke (Artikel 1 en Selfdegeslagverhoudings, byvoorbeeld). Maar ons het! Wat ons baie gehelp en gerig het, was die Emmausgangersverhaal (Luk 24:13-35). Tydens die sinodevergadering wil ons deur die agterste venster kyk en die vierjaarpad vier én herbeleef.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/10/van-der-Merwe-Frikkie-Natal1.jpg” caption=”Ds Frikkie van der Merwe is die moderator van die NG Kerk in KwaZulu-Natal.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Hierdie agtertoe-kyk het vanuit ’n ander hoek ook belangrik geword: Ons wil vorentoe kyk. (KZN-sinodes is meer visionerend as besluitnemend). Ons sien wel dreigende wolke (uitdagings?!) vorentoe op die pad. Die NG Kerk in KZN is maar klein en die armoede baie; die evangelie-vreemdes “ontelbaar”; die xenofobie immerdreigend; die droogte verlammend-angswekkend; die binne-kerkse-gesprekke soms verdelend; kleinerwordende gemeentes onrusbarend; warm politiek. Hoe nou vorentoe op die pad?
Om ons te help, lees die sinode-ontwerpers toe die Bybelverhaal net ná die Emmausgangers (Luk 24:36-53). Jesus leef en Hy kondig sy immerteenwoordigheid en veranderende oorwinningskrag aan met “Vrede vir julle”. In Christus is ons hoop! So “skree” hierdie verhaal dit uit!
Soos die dissipels is ons egter ook maar nog verskrik en twyfelmoedig. Hoe help Jesus húlle? Jesus wys vir hulle “foto’s” en herinner hulle aan die pad wat hulle so pas saam met Hom gery het! – Hy laat kyk hulle deur die agterruit na sy pas afgelope dood en wat verder terug gebeur het!
Agter die KZN-sinodevergadering lê daar ’n vierjaarpad van saamwees in Christus. Daar is ’n hele foto-album van Christus se pad met sy kerkie in KZN, van die hele NG Kerk en van sy hele kerk. Ons wil hierdeur gaan blaai, herinner word aan waar ons gery het om Jesus die geleentheid te gee om ons van ons skrikkerigheid te verlos, ons twyfel weg te vat en ons geloof te versterk.
Daarom is ons tema: In Christus is ons hoop.
Ons wil dus, in Christus, en in Christus saam, met geloofsafwagting en met nuwe perspektiewe by die voorruit uitkyk tydens die vergadering. Ons wil ook gehoorsaam opneem om getuies van Jesus se opstanding en Goeie Nuus te wees, van Pietermaritzburg af en al verder; want dít weet ons maak van ons Jesus se kerk. Missionaal is ons en wil ons wees – gedryf deur waardes van deursigtigheid, eerlikheid, waagmoed, respek, aanvaarding van mekaar en deernis!
Die gelowiges, wat deel is van die NG Kerk in KZN, sien met opgewonde afwagting en verwagting uit na die sinodevergadering, 10-13 Oktober, want ons “sien” die opgestane/lewende Jesus wat sê: “Vrede vir julle”.
▶ Ds Frikkie van der Merwe is die moderator van die NG Kerk in KwaZulu-Natal.