SELF-COMPASSION – STOP BEATING YOURSELF UP AND LEAVE INSECURITY BEHIND
Deur Kristin Neff
Uitgegee deur HarperCollins (2011)
Resensie deur André Botha
As ek die konsep “selfbeeld” inspan om my eie lewensverhaal te vertel of oor myself na te dink, dan kan ek myself sieker maak!
Ons is van kleins af geleer om ’n goeie selfbeeld te hê. Ek het dit self geglo totdat ek prof Martin Seligman (vader van Positive psychology) se boek Learned optimism gelees het. In die voorwoord skryf hy dat die blote gebruik van die woord “selfbeeld”, een van die oorsake van depressie is.
En so gebeur dit dat ek vir die tweede keer op navorsing afkom wat die konsep “selfbeeld” afwys. En hierdie keer is dit ’n boek met ’n oempf – die boek van dr Kristin Neff. Neff is mede-professor in opvoedkundige sielkunde by die College for Education, Universiteit van Texas in Austin.
Neff toon aan dat die aanname as ons maar net ons kinders se selfbeeld kan verbeter dan sal die kind op alle gebiede beter vaar, foutief is. Dit is wel waar dat mense met ’n goeie selfbeeld vroliker is en meer vriende het, en dat hulle meer gemotiveerd is. Mense met ’n lae selfbeeld is meer eensaam, angstig en bedruk.
Maar, soos wat die konsep “selfbeeld” nagevors word, blyk dit al hoe meer dat ’n goeie “selfbeeld” nie akademiese prestasie, werkprestasie, of leierskap bevorder nie. Dit voorkom ook nie destruktiewe tienergedrag nie. ’n Goeie selfbeeld is eerder die gevolg van harde werk en gesonde gewoontes.
Neff stap af van die konsep “selfbeeld” en haar navorsing handel dan oor “self-compassion”. Die boek handel in wese oor ’n sagte omhelsing van jouself – of om dit teologies te stel: Jy moet jou naaste liefhê soos wat jy jouself liefhet. En ek meen dat ons as Calviniste juis hiermee ’n bietjie vasval. Ons kort ’n deernisvolle aanvaarding en omarming van onsself. Neff omskryf “self-compassion” breedvoerig, berig oor die voordele daarvan, en hoe dit ons verhoudinge (naasteliefde) met ander verbeter.
As sielkundige put sy uit die Boeddhistiese filosofie. Dit neem nie die waarde van ons teologiese refleksie oor ’n deernisvolle omarming van jouself weg nie – dit verhoog dit eerder. Die boek gee ons meer insig in wat die Here bedoel het met: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Dit is asof Jesus se opdrag handvatsels kry.
▶ Dr André Botha is predikant van die NG gemeente Pretoria-Oosterlig en staan aan die stuur van die Coram Deo-sentrum vir pastorale narratiewe terapie.