“Moet asseblief nie ons kerk skeur nie.”
Die was die pleidooi van die politieke joernalis Jan-Jan Joubert op die openingsdag van die Noordelike sinode se sitting buite Modimolle in Limpopo na aanleiding van die gay-debat in die kerk.
Joubert was een van die sprekers wat die sinode gehelp het om te besin oor die konteks waarin die NG Kerk funksioneer.
Hy het die NG Kerk onder meer bestempel as die grootste Afrikaanse organisasie in die wêreld en as die mees suksesvolle welsynsorganisasie in Suid-Afrika.
Teen die agtergrond van die omvang van korrupsie in die land, het hy spesifiek lof daarvoor gehad dat die kerk se welsynsdiens jaarliks meer as ‘n miljard rand bestee, sover bekend sonder dat daar enige geld gesteel word.
Joubert, wat self ‘n NG lidmaat is, het gesê die NG Kerk is op sy beste as sy mense saamwerk en op sy swakste as hulle onder mekaar baklei.
Wat die gay-debat betref het hy gevra dat mense in die kerk hulle moet vra of die oordeel hulle toekom. Hy het die kerk aangeraai om nie ‘n oordeel op die ondermaanse uit te spreek nie, maar dit oor te laat aan “eendag”.
Joubert het gesê dat die liefdesgebod eerste kom. “Wees lief vir mekaar wanneer julle verskil, het hy gesê.
Op ‘n vraag wat die kerk prakties kan doen om ‘n skeuring te voorkom, het Joubert gesê: “Dis eenvoudig. Moenie skeur nie. Dis ‘n wilsbesluit.”
Hy het ook verwys na die debat oor die Belydenis van Belhar en die storie vertel van die arbeidsonrus op De Doorns ‘n paar jaar gelede. Die regering was met hulle hande in hul hare oor die saak, maar die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk kon saam ‘n oplossing bemiddel.
“Die feit dat die NG Kerk in Wes-Kaapland Belhar aanvaar het, het ‘n groot rol gespeel daarin dat die werkers bereid was om met die boere te gaan sit en gesels,” het hy gesê.
Joubert het gesê hy wil nie daarmee voorskriftelik wees nie. Hy wou maar net die storie oor Belhar vertel.
