Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gert Oosthuizen van Langebaan en Marcel Vosloo van die Strand skryf:
Die huidige gesprek oor homoseksualiteit maak die NG Kerk se oë oop oor talle, diepgaande verskille. Die kern is Skrifhantering. Daar is teoloë wat die Woord beskou as ’n boek van mensegedagtes oor God, en daar is teoloë wat die Woord beskou as volledig geïnspireer deur die Gees van God.
Hierdie standpunte oor die Woord het duidelik verskillende uitkomste in die interpretasie daarvan. Wanneer die Woord gesien word as slegs mense se woorde oor God, word die pad oopgemaak vir ’n suiwer wetenskaplike benadering. Die bestaan van die duiwel, die maagdelike geboorte, die opstanding – en nou ook die beoefening van homoseksualiteit – word hiervolgens maklik bevraagteken.
Ons afhanklikheid van God se leiding in die verstaan van sy Woord, word eenvoudig misken. Sien Jesus se woorde daaroor in Matteus 11:25-26, Paulus s’n in 1 Korintiërs 1:26-29 en Petrus s’n in 2 Petrus 1:20.
Die vraag is: Hoe moet die kerk hierdie tweespalt hanteer? Diegene wat meen dat die Skrif nie geïnspireerd is nie, kan sekerlik die kerk sien as ’n ruim huis met baie vertrekke. Die – om dit so te noem – “inspirasiekamp” kan ongelukkig nie die “ruimhuisteorie” ondersteun nie. Die Woord van God laat dit nie toe nie. Diegene wat ernstig is oor die Skrif as God se geïnspireerde Woord, moet in gehoorsaamheid aan die Woord dwalings uitwys en bestry.
Quo vadis? Volgens ons lyk ’n kompromis nie moontlik nie, die groepe is te ver verwyder van mekaar. Daar is selfs ’n sinode wat daaroor besin het of hulle moet wegbreek. Hoe hartseer hierdie onderwerp ook al is, wil ons dit op die tafel sit dat daaroor besin moet word – ter wille van die heil van die kerk en die eer van God.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
