Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Hennie Crous van Porterville skryf:
Regdeur die geskiedenis het mense hulle sondes probeer regverdig deur hulleself met iemand te vergelyk wat “sondiger” as hulle is. Mense sal na die swakste voorbeeld in die hele kerk kyk en sê: “As hulle kerk toe kom en hemel toe gaan, sal ek dit maak.”
Dit is ’n verskriklike vergelykingsnorm. ’n Mens gaan nie aan die skynheiliges by die kerk gemeet word nie. Ons gaan met Jesus vergelyk word (Rom 3:23) en tensy ons aan sy standaard voldoen, het ons ’n Verlosser nodig.
Maar dis menslik om ons met ander mense te wil vergelyk in ’n poging om ons sondes te verskoon.
Homoseksualiteit was eens op ’n tyd volgens alle standaarde, selfs die wêreld s’n, onaanvaarbaar. Maar vandag is daar selfs politici, openbare figure wat veronderstel is om gerespekteer te word, wat hierdie lewenswyse openlik voorstaan.
Hierdie onlangse verskynsel het baie mense se opinies daaroor verander, want hulle vergelyk hulle met ander mense en sê: “As dié en dié dit doen, of as dié en dié nie ’n probleem daarmee het nie, kan dit nie so verkeerd wees nie.”
Dit is ’n ernstige fout om iets wat God veroordeel, openlik voor te staan net omdat iemand anders dit voorstaan – maak nie saak hoe ryk of invloedryk hulle is of watter posisie hulle beklee nie.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
