Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Goudland wil Algemene Sinode drasties verander

Die NG Kerk se sinode Goudland (voorheen Wes-Transvaal) stuur ingrypende voorstelle na die Algemene Sinode toe oor hoe die kerkverband voortaan moet funksioneer.

Dit behels onder meer dat die Algemene Sinode (Goudland bepleit die naam “Eenheidsinode”) net elke vier jaar vergader, maar dan met ‘n baie groter vergadering.

Goudland stel voor dat elke gemeente al hulle dominees en ‘n ouderling vir elke dominee na hierdie sinode toe afvaardig. Dit sou meebring dat die voorgestelde eenheidsinode drieduisend of meer lede sou kon hê.

Dit sal wel duur wees, maar Goudland meen die betrokkenheid van elke gemeente by besluite van die eenheidsinode, sal meer as vergoed daarvoor. Nou is daar ‘n sterk gevoel dat die Algemene Sinode soms besluite neem waarby gemeentes geen inspraak het nie.

Tussen eenheidsinodes vergader ‘n baie kleiner sinode kontrakta een maal per jaar. Dit word saamgestel uit die moderatuur van die eenheidsinode en drie dominees en drie ouderlinge van elkeen van die tien sinodes. Dié kleiner sinode kontrakta vervang die Algemene Sinodale Moderamen.

Goudland se gedagte is dat geen omstrede besluit deur enige van hierdie sinodes geneem word voordat die saak deur kerkrade, ringe en sinodes bespreek word nie.

As al tien die sinodes konsensus oor ‘n saak het, dan mag die sinode kontrakta ‘n besluit daaroor neem.

As daar nie eenstemmigheid is nie, dan moet die saak na die Eenheidsinode verwys word wat ‘n besluit namens die kerk sal neem. Kerkrade behou egter die reg om van die Eenheidsinode se besluite te verskil.

Oor die leierskap stel Goudland voor dat daar nie meer van ‘n moderator en assessor gepraat word nie, maar van ‘n voorsitter en ondervoorsitter. Die voorsitter mag tydens sy termyn nie sy eie standpunt oor kerksake stel nie, maar moet die sinode se standpunt stel.

Dominees en ouderlinge wat na die eenheidsinode of die sinode kontrakta afgevaardig word, mag ook nie net hulle eie standpunte daar stel nie, maar moet ook die standpunte stel van die vergaderings wat hulle afgevaardig het.

Die voorstelle van Goudland word deurgestuur na die buitengewone Algemene Sinode in November waar die toekomstige funksionering van die Algemene Sinode ook op die agenda is.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top