Die NG Kerk se sinode Goudland (vroeër Wes-Transvaal) het gister die deur geopen dat sowat 46 Tswanasprekende gemeentes by die NG Kerk kan inskakel.
Dié gemeentes is verspreid oor hoofsaaklik Noordwes, maar ook oor die Vrystaat en Limpopo. Hulle kom oorspronklik uit die NG Kerk in Afrika, maar na ‘n twis in dié kerkverband wat al uit die vorige eeu dateer, het hulle aansoek gedoen om deel te word van die NG Kerk.
Ds Japie du Plessis, sendingveteraan van die sinode Goudland, het vertel dat hy self met wyle ds Lampies Lebone, destyds van die NGKA se sinode Phororo, gepraat het oor dié gemeentes. Lebone het hulle as “stout kinders” bestempel. Van die Algemene Sinodale kantoor van die NGKA het hulle gehoor dat die NGKA nie die leiers van dié groep as predikante erken nie.
Uiteindelik het dié gemeentes hulself in ‘n eie sinode met die naam Bokang Modimo georganiseer. Hulle soek nou ‘n plek om tuis te kom en het hulle na die NG Kerk gewend hiervoor.
Du Plessis het aan die sinode gesê dié gemeentes het hulle eie teologiese opleiding by die Noordwes-Universiteit se Mafikeng-kampus. Vier professore uit die NG Kerk doseer daar en Bokang Modimo het al hulle eie predikante daar gelegitimeer.
Sy versoek aan die sinode was: “Ontvang ons broers en susters.”
Die sinode het in beginsel besluit om die versoek goed te keur.
Die versoek sal nou ook deurgestuur word na die Algemene Sinode toe.
Verder sal Sinode Goudland met Bokang Modimo in gesprek tree oor ‘n samewerkingsooreenkoms wat sal bepaal presies hoe hierdie groep by die NG Kerk sal inskakel.
Die gedagte wat in die besluit genoem word, is dat Bokang Modimo ‘n ring van Sinode Goudland sal word, maar Du Plessis sê dit is nog nie vas nie. Daar is ook ‘n moontlikheid dat hulle as sinode by die NG Kerk kan inskakel.
