Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dosente se standpunt stel teleur

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Chris Smith van Westonaria skryf:

Hiermee wil ek my teleurstelling uitspreek oor die skrywe van die dosente van UP oor die besluit oor selfdegeslagverhoudings.

Eerstens omdat  die groep die skrywe rig as ‘n groep  “geleerdes”.  Dit is duidelik gestel as komende van die dosente van die universiteit. Maar dit moet tog nie die motivering wees waarop ons mekaar oortuig nie. Dit het my ongelukkig laat terugdink aan die verhoor van Martin Luther wat die Woord wou bespreek oor sekere sake, maar daar is net van “bo” af  gesag afgedwing. Dit het gelei tot skeuring.

Tweedens behoort die dosente tog bewus te wees van die argumente dat die vraag rondom selfdegesalgverhoudings nie met die ander vorige sake, soos die rol van die vrou, vergelyk kan word nie. Oor baie sake waaroor die kerk in die verlede standpunt verander het, was dit omdat besef is dat daar ontwikkeling en verandering voorkom in die Skrif self oor byvoorbeeld die rol van die vrou. Daarteenoor is die Skrif konstant afwysend teenoor selfdegeslagverhoudings.

Derdens en die belangrikste is die feit dat Skrifgesag en die insette van die Wetenskap en Algemene openbaring nie op dieselfde vlak is nie. En hierdie is die grootste en eintlike seer en worsteling van die kerk – Hermeneutiek.

Die dosente is vinning om te verwys na die Nederlandse Geloofsbelydenis wat God se spreke ook deur die natuur en wetenskap erken, maar daar word nie melding gemaak van wat in Artikel 7 staan nie, naamlik die waarheid (Woord van God) is genoegsaam en is bo alles. Die gesag van die Woord moet in die kerk bo die gesag van alle ander staan. Dit beteken ook bo gesagsaanstellings. Ek dink nie die Woord, waar dit selfdegeslagverhoudings afwys, is teen die wetenskap  nie. Dit is egter ‘n ander, langer debat.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top