Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Plaas gay getuienisse sentraal

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

’n Student van Stellenbosch skryf:

Al die studente aktivisme van die laaste twee jaar wat op kampusse opgevlam het, het ’n nuwe bewussyn aangewakker rondom identiteitskwessies en -politiek, iets wat tot dusver amper ongehoord was vir Jan Publiek. Die manier wat daar oor ras gepraat is binne dié aktivis spasies, kan ook baie insiggewend wees wanneer dit toegepas word op gesprekke oor LGBT kwessies.

Een van die belangrikste aspekte van identiteitspolitiek is die konsep dat “lived experience” gerespekteer moet word. Wanneer kwessies bespreek word wat hoofsaaklik een groep affekteer, word die getuienis van daardie groep bo alle ander gestel. Die eenvoudige logika agter die konsep is dat geen ander persoon buite die spesifieke groep beter kennis dra van wat dit beteken om as ’n lid van die groep te leef nie. So is byvoorbeeld by van die vergaderings oor rassisme op kampus spesifiek gesê dat slegs swart (asook kleurling, indiër, ens.) studente hul opinies mag lig. Blanke studente is aangemoedig om daar te wees, maar is gevra om te luister.

Hierdie dinamika word nog belangriker wanneer dit handel oor ’n groep wat histories en in die hede onderdruk word. Onderdrukte en minderheidsgroepe se diskoers is nog altyd histories deur die dominante groep onderdruk en verwring. ’n Kennende voorbeeld is hoe die meeste LGBT karakters in die media meestal blanke mans is, en selfs hulle word gewoonlik as belaglike of tragiese figure uitgebeeld.

Hierdie bring my by twee belangrike punte:

  1. Indien die kerk werklik belangstel in die realiteite van gay mense, sal hulle gay mense se getuienisse en verhale sentraal tot hierdie kwessie plaas. Hierdie besluit gaan in die werklikheid hoofsaaklik gay mense se lewens drasties raak, hulle moet dus ’n beduidende rol in hierdie besluit speel.
  1. Heteroseksuele mense sal nooit weet hoe dit werklik is om as ’n gay persoon in ’n homofobiese wêreld te leef nie. Moet dus nie jou opinies uitspreek oor sake waarvan jy geen kennis dra nie. Keer op keer hoor ek gesprekke oor die sogenaamde ‘onsedelike leefstyl’ van gay mense, dit gewoonlik van persone wat nie ’n enkele gay persoon ken nie, wat nog gepraat van met hulle ’n gesprek voer. Moet dus nie die verwronge idee wat die media skep glo nie – tree eerder in ope en eerlike gesprek met werklike mense. Dis al hoe jy ’n blik op iemand anders se lewe sal kan kry.

Hierdie is nie net ’n beroep op die Sinode nie, maar op alle gemeentes in die land. Dit maak nie saak wat die uiteinde van die besluit is nie, gemeentes gaan moet begin praat met die gay lidmate wat in elke liewe gemeente sit.

Die vermoë en behoefte om iemand van dieselfde geslag lief te hê is diep gewortel in ons wese en dis nie iets wat ooit gaan verander nie. Wat hopelik kan verander is die totale afwesigheid van spasies binne die kerk vir gay mense om eerlik en openlik hulself te wees. Die eerste stap is gesprek. En ’n groot deel van daardie gesprek gaan bestaan uit sit en luister, in ’n poging om te verstaan.


Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top