Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Pro en anti, beide in God se wil?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Pieter Dorey van Kampersrus skryf:

Pro- Gay en anti- Gay; beide binne God se wil?

Jy hoor reg.  Dis hoe ek glo. Ek sou graag ruim spasie wou hê om te motiveer, maar in baie kort die volgende. Al die debatte en besluite van die verlede en verandering van standpunte oor onder andere, dans, vrou in die amp, ampsdrag, spiritualiteite, apartheid, Sondagviering, en nog vele ander sake bevestig dat die Bybel nie fundamentalistiese standpunte oor ten minste kulturele en etiese sake voorskryf wat vir alle omstandighede altyd presies dieselfde geld nie.

Daar is ook oor baie ander leerstellige kwessies meningsverskille waarmee ons eintlik gemaklik mee saamleef. Dit is ongelukkig telkens die samelewing en omstandighede wat ons dwing om “ons tekste te herbesoek”.

Kom ons wees eerlik dat die meeste mense maar subjektief en selektief fundamentalisties met waarhede (en Bybeltekste) omgaan om hulle standpunte te verdedig. Dit is egter kwalik moontlik om nie in te sien dat God se wil vir die meeste sake nie ’n enkele voorskif stel nie, maar eerder ’n ruimte skep waarbinne verskillende standpunte geakkomodeer kan/moet word.

Om binne God se wil te wees moet kulturele en etiese sake voldoen aan die vereiste van 1 Korintiërs 13, liefde. Nie eers godsdienstige aktiwiteite val binne God se wil as dit nie aan die liefde voldoen nie. 

Maar saam met die aanvaarding dat God se wil vir die meeste sake ruimte maak, is dit krities belangrik om ten minste te onderskei tussen randsake, belangrike sake en heilsnoodsaaklike sake. In randsake – vryheid (met respek vir ander).  Vir belangrike sake – akkomodering van verskille op billike voorwaardes. Vir wesenlike, heilsnoodsaaklike sake moet daar eenstemmigheid wees.

In die kerk is byvoorbeeld die geloof in Jesus Christus as Here en Verlosser ononderhandelbaar en heilnoodsaaklik (Johannes 3:16). Stemme wat staak en ’n kerk wat “verdeeld” is oor verskeie rand- of belangrike sake behoort daarom nie ’n verleentheid te wees nie. Daar hoef nie gedebateer te word oor wie nou eintlik God se wil verteenwoordig nie.

Soos die dosente van Tuks verklaar het, glo ek dat die Algemene Sinode goeie besluite gemaak het. Die besluite gee erkenning aan die ruimte van God se wil en die verantwoordelikheid om fyn te onderskei wat randsake, belangrike sake en heilsnoodsaaklike sake is.

Ons kan nie anders as dat ons liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom nie (Filippense 1:9-10). Dit te meer in ’n uiters diverse samelewing waar die NG Kerk ’n missionale kerk wil wees wat grense oorsteek.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top