Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

So sê die Here – sê wie?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Isak du Plessis skryf:

By oorpeinsing van al die gepubliseerde standpunte wat gebruik word in die homo-debat in die NG-kerk, onthou ek die woorde van ’n ou Basotho: “Meneer, remember – people can be clever but possibly not wise”. Al die redenasies en motiverings vir elk van die diverse en botsende standpunte klink heel slim. Maar die vraag in my hart bly … getuig hierdie antwoorde van wysheid? En indien nie – wat sou ‘Wysheid’ hieroor sê?

En die Heilige Gees neem my terug in tyd na die onbeskaamde naakte Adam en Eva – gekroon met die heerlikheid van God – wat leef in totale Godsbewustheid. Wanneer hulle na mekaar kyk sien hulle God se heerlikheid. En toe… die skok na die sondeval… hulle is naak! Skielik, en tot vandag … is die mens self- en vleesbewus.

En in die uitgerekte ‘debat’  oor een sonde (homoseksualiteit) val ons weer in die strik van mens- en vleesbewustheid. Ons sien die ‘onvermydelikheid’ van sonde as rede tot aanvaarding daarvan. Ons sê God is verantwoordelik daarvoor. Hy het  die sondige mens so gemaak!

En omdat God die skuld kry vir ons sonde – wie is ons om mense wat mekaar liefhet en in ’n ‘rein’ selfdegeslag liefdesverhouding leef, te veroordeel!  En ons vergeet – ignoreer die gevolge van die sondeval en van God se verlossingsplan wat oproep tot bekering. (‘Clever’ of wys?!)

En hoe werk hierdie verlossingsplan? Jesus sterf vir ons gevalle mensheid se sonde sodat elkeen wat Hom aanneem, nie verlore sal gaan nie. Die voorwaarde? Dat die sondige mens hom sal bekeer van sy sondige vleeslike aard en leefwyse. ’n Nuwe skepsel in Christus van wie gesê word: “Kyk die ou dinge (die voormalige sondige aard en handeling – insluitende homoseksualiteit) het verbygaan. Kyk dit het alles nuut geword!”

Hoe? Die gevalle sondige mens wat ek was, het saam met Christus gesterf. Is met Hom begrawe en is met Hom opgewek in ’n nuwe lewe! Lidmaat van die kerk – die liggaam van Christus. Bekeerde, voormalige sondaars. Nou kinders van God wat stry teen sonde. Meer as oorwinnaars oor die ou mens. Hulle vermaan mekaar as een terugval in sonde. As hy daarin volhard… plaas hulle hom onder tug en as hy verder volhard… word dit bekendgemaak dat hy of sy afgesny is van die liggaam. Want die liggaam van Christus is uniek. ’n ‘Uitverkore heilige koninklike priesterdom’.

Verskriklik dan om te verneem hierdie  ‘standpunt’ is al oor en oor gestel in briewe en artikels… en nogtans is ’n spesiale sinodesitting nodig om te besin oor menslike redenasies versus die Skrif!  Sinodegangers onthou asseblief die Bybelse uitspraak (Hebreërs 10:26-27) verteenwoordig nie net ’n nog ’n opinie nie: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,  maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer….  Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God”.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top