Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Pieter Oberholzer aan die woord by die Algemene Sinode. Foto: Louise Jackson

Gays praat met sinode

Twee gay lidmate van die NG Kerk het kans gekry om iets van hulle persoonlike verhale met die Algemene Sinode van die NG Kerk te deel.

Stefan de Klerk, ’n teologiestudent in Stellenbosch, en ds Pieter Oberholzer, afgetrede predikant, was albei deel van groepe wat voorleggings aan die Algemene Sinode gedoen het. Hulle kon dié voorleggings toelig.

Oberholzer is deel van ’n groep lidmate wat almal in gay verbintenisse bevestig is, wat ’n voorlegging gemaak het. Hy het vertel hoe hy as student twee jaar lank onderwerp is aan “barbaarse aversieterapie” om hom te help om van sy gaywees ontslae te raak.

Toe dit nie suksesvol was nie, is hy aangeraai om nie sy teologiestudie voort te sit nie. Op advies van prof Willie Jonker is hy Nederland toe waar hy ’n geestelike tuiste gevind het.

Hy het homself bestempel as “gay, gelowig en geroepe”.

In Nederland het hy geleer wat dit beteken om uit genade te leef en om eerbied vir die Woord te hê, het hy vertel.

Hy het saam met sy lewensmaat (hulle is nou al langer as dertig jaar saam) in ’n pastorie gebly en ’n gemeente van meer as 4000 lidmate bedien.

Hulle het aan mekaar trou gesweer, hulle leef uit 1 Korintiërs 13, en “ons dien die Here,” het hy gesê.

Oberholzer het gesê hy staan daar vir die evangelie. Elke dogmatiese stelling kan lewe bring of ’n doodstraf word.

“Ons is mense. Ons maak foute. My gebed is, in Gods naam, as julle fouteer, laat ons ’n fout maak aan die kant van die liefde eerder as aan die kant van dogma, tradisies en vooroordele.”

De Klerk is een van ’n groep voornemende studente wat saam ’n voorlegging gemaak het.

Hy het aan die einde van sy toeligting ’n roerende e-pos gelees wat ’n gay man van sy pa gekry het nadat dié gehoor het sy seun is gay.

Daarin sê die pa onder meer hy sal God ewig dankbaar bly vir so ’n seun. As dit nie vir hom was nie, sou hy dalk nooit uit die kokon van gevangeneskap kon ontsnap nie.

Hy is opgewonde “want God het ons deur jou op ’n baie spesiale wyse aangeraak. Halleluja!”

Nadat hy dit gelees het, het De Klerk gesê dat hy die e-pos vroeër vanjaar van sy pa gekry het.

Onder die sprekers was daar verskeie wat teen gay verbintenisse gepraat het en ander wat dit ondersteun het.

Ds Johan Koen van Burgersfort het gesê hy wil die pyn op die tafel sit van lidmate wat skielik moes hoor daar is ’n ander verstaan van die Bybel as wat hulle ken.

Hy het gepleit dat dit eintlik die gesprek oor Skrifgesag is, wat wyd in die kerk gevoer moet word.

Dr Chris van Wyk van die gemeente Somerstrand in Port Elizabeth het aangevoer dat die Bybel en die Belydenisskrifte homoseksuele gedrag deurgaans negatief beoordeel. “Sonde is sonde,” het hy gesê.

Ds Henk Taute van die ring van Estoire het gesê die sinode het emosionele argumente gehoor, maar die sinode is nie byeen om emosioneel te oordeel nie. “Ons moet kyk wat sê die Woord van God,” het hy gesê.

Ds Carel Smith van Suiderstrand het gepleit vir bedieninge wat gays help om vry te kom van hulle homoseksualiteit. Hy het aangevoer dat daar baie verhale van sulke mense is.

Dr André Bartlett van die gemeente Andrew Murray in Johannesbug het gesê hy wil niemand tot sy standpunt oortuig nie, maar hy vra vir ’n besluit wat ruimte bied vir verskillende standpunte.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top