VERANDER JOU KOP, VERANDER JOU LEWE
Deur Stephan Joubert
Uitgegee deur CUM, 2016
Gedragswetenskaplikes help ons om twee moeilike vrae beter te verstaan:
- Wat bepaal menslike gedrag?
- Hoe kan ’n mens sy optrede verander?
Uiteraard het almal wat berading doen, ernstig belang by hierdie twee vrae. Stephan Joubert bring in hierdie boek baie interessante insigte rakende hierdie vrae na vore.
Hy bied dit nie aan as ’n boek oor breinnavorsing nie en dis ook nie ’n beradingshandleiding nie, maar hy hanteer die jongste navorsing op die terrein van breinnavorsing. Dan bring hy dit direk in verband met die Bybel en die manier waarop jy die Woord kan hanteer sodat dit jou manier van dink en dan jou gedrag beïnvloed.
Dis baie interessant om te weet hoe kragtig die brein is, hoeveel sinapse in die brein gevorm word deur bepaalde denkpatrone, hoe daardie sinapse òf positiewe òf negatiewe denke, gevoelens, gesindheid en gedrag tot gevolg het – afhangende van die manier waarop jy dit doelbewus help vorm.
’n Aha–oomblik kan onmiddellik ’n skuif in jou denke veroorsaak (deur ’n sinaps wat gevorm word) maar dit moet verder in stand gehou en versterk word. Dink maar aan die implikasies hiervan vir iemand se erediensbelewenis én vir berading.
Daar is baie implikasies in hierdie insigte vir die bediening. Joubert sê in die boek hy het al dikwels gehoor ’n mens moet “jou hart vir die Here gee”, maar nêrens sê predikers “Gee jou verstand vir die Here” nie. Trouens, ons word dikwels aangemoedig om juis ons denke te ignoreer wanneer dit by ons geloofsbelewenisse kom.
In hierdie boek word die manier waarop die brein jou geloofslewe, gevoelens en gedrag raak, helder uitgespel.
Gevoelens is aansienlik vinniger as denke. Jou amigdala (die grootte van ’n amandel, diep binne die temporale lob van die brein) kry van die brein se waarneming-impulse en reageer dan binne 20 millisekondes daarop. As dit vrees, angs of stres is, skei dit die sogenaamde vries-, veg- of vlughormoon af.
Adrenalien wat te lank in die sisteem bly, het onteenseglik skadelike gevolge vir die liggaam. Maar as die hippokampus (wat die rasionele kant van jou brein verteenwoordig) die impulse reg verwerk kan selfs matige stres vir jou goed wees.
In Filippense 4 staan dat ons alles wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig, deugdelik en lofwaardig is, moet bedink en ons gedagtes daarop moet rig. Die boek help met hierdie proses. Trouens, Joubert bied praktiese oefeninge aan om daarmee te help.
▶ Ds Gerrie Doyer is ’n emeritusleraar van Witrivier.
