Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prop Jannie Botha van Witfield skryf:
Dit is met groot kommer dat ek die gebeure in die NG Kerk – ook een van die gestaltes van God se Kerk op aarde – aanskou. Die wortel van die kwaad binne die kerk het gegroei die dag toe die kerk die satan geminimaliseer het tot ‘n mite. Nou is die satan soos ‘n brullende leeu besig om die kerk te vernietig.
Dit is tog duidelik dat wanneer ek myself Christen noem en kerk van die Here, dat ek daarmee myself onder die gesag van Christus en Sy Woord alleen stel. Ons liberale vrydenkendes en sogenaamde Christen wetenskaplikes is juis besig om hulleself bo die gesag van God te stel. Hulle sal nou bepaal wat die Here eintlik bedoel het en hoe die Here die mens eintlik geskape het!
Die meer as 700 teoloë en lidmate en ondertekenaars wat in opstand is teen die feit dat die Heilige Gees die sinode gelei het, is in opstand teen God en Sy heilige Woord.
Ek verstaan nie: die vorige sinode se besluit was op oneerlike wyse bekom, maar dit is aanvaarbaar. Wanneer die kerk dan op ‘n eerlike pad loop, is dit ‘n sonde wat eis dat iemand gekruisig moet word! Verduidelik dit vir my asb.
Christus het nooit die sonde geminimaliseer om so verlossing te bewerk nie. Sy verlossingswerk aan die kruis vereis juis dat ek as sondaar voor Hom staan. Wil die kerk die homoseksuele persoon nou die verlossing ontneem deur dit te ontsondig?
