Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die evangelie sal triomfeer

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dominee anoniem skryf:

Ek was sewe jaar oud toe ek vir die eerste keer as klein seuntjie die roepstem van die Here gehoor het. Hy het my geroep om voltyds in sy diens te staan. Ek kon nooit verduidelik hoe ek dit gehoor het, of hoe ek dit geweet het nie. Maar dit was deel van my: Ek moet ‘n predikant word van die NG Kerk waarin ek grootgeword het. Hierdie ervaring van God se roepstem op die Karooplaas waar ek grootgeword het, sal my ewig bybly.  Dit was in dieselfde jaar wat ek ook seksueel misbruik is deur ‘n ander man, op die einste plaas.

Regdeur my grootwordjare het hierdie twee ervarings my bygebly en gevorm: die begeerte om God se roepstem te beantwoord, die verlange om mense te bedien met die liefde van God; maar ook die worsteling rakende my eie seksuele identiteit wat besig was om in my te ontwikkel as gevolg van die vroeëre misbruik.

Uiteraard was die gevolg van die seksuele misbruik dat ek begin twyfel het oor my eie seksualiteit en gepaardgaande geskiktheid om in die bediening te staan, omdat ek soos baie ander kinders van my ouderdom geleer is van die “sonde” van gay-wees – veral in die plattelandse gemeente waar ek grootgeword het.

Die twyfel en worsteling van my eie seksualiteit het my gedagtes vir baie jare gevul, totdat ek uiteindelik verstaan het dat dit in my geval die resultaat was van die misbruik uit my kinderdae. Maar ek kén die worsteling, ek kén die twyfel, ek kén die selfhaat, ek kén die alleenheid, want ek kon nie myself die (onregverdige) bevoorregting gun wat meermale met heteroseksualiteit in die Kerk en die Afrikaner-kultuurgemeenskap gepaard gaan nie.

Daarom kan ek ly saam met my homoseksuele broers en susters oor die NG Kerk se besluit rakende selfdegeslagverhoudindgs by die onlangse buitengewone Algemene Sinode.

Maar my verhaal is nie elkeen se verhaal nie: kern- (aangebore) homoseksualiteit is nie “geneesbaar” nie. Veral omdat dit nie ‘n siekte is nie. Dit laat jou wel alleen en meermale verlate; dit dwing jou uit ‘n samelewingsverband wat jou nie ten volle aanvaar nie, en wat volgens die wese van die evangelie jou moes verwelkom het.

Vandag is ek ‘n predikant in die NG Kerk, ek is 40 jaar oud en getroud met ‘n wonderlike vrou en die pa van twee fantastiese kinders, en ek het streng gesproke nog 25 jaar diens in die kerk oor.

Ek sal nie gaan lê nie. Dié was nie die laaste sinode nie, en die (veral) mans wat vanuit hulle bevoorregte en bevooroordeelde posisie van heteroseksualiteit kon praat sal nie die laaste woord hê nie. Hou moed broers en susters, die evangelie sal triomfeer. En intussen sal ek die haters liefhê, want dit is ook die evangelie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top