Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Noeline Rossouw skryf:
Na die afgelope sinodesitting het ek besluit om aan Kerkbode te skryf.
Ek is ‘n ondersteuner van die 2015-besluit oor selfdegeslagverhoudinge en was diep teleurgesteld oor die 2016-besluit.
Die Here het my in my laat dertigerjare geroep om teologie te gaan studeer. As getroude vrou was my keuse Unisa en het ek die BTh-graad verwerf. Vele mense wou weet wat ek met die studies gaan maak! In my hart was ek oortuig dat die Here geweet het. En Hy het.
Ek het grootgeword toe vroue nog hoede, sykouse en rokke kerk toe moes dra. Maar ek was ook een van die eerste wat sonder hoed en sykouse en met ‘n langbroek kerk toe gegaan het.
Ek was selfs voor die kerkraad vir my kaal bene en toe weer met die langbroekdraery. Nogal cheeky gewees daardie tyd en vir ‘n tannie, wat goed bedoel het, gesê sy moet liewers na die preek luister en vergeet van my kleredrag.
Die Here het vir my die deure vir die evangelie wyd oopgemaak. Ek is by Die Vleie Gemeente in Hoekwil, Wildernis, baie jare terug aangestel as geestelike werker. Ons is ‘n uitreikspan wat na die hele plaaslike gemeenskap uitreik. Ons besoek skole, doen huisbesoeke, hospitaalbesoeke, besoek aftreeoorde.
Verder het ons persone opgelei en toegerus met die kursusse van die Timoteus Opleidingskollege. Prof Pieter Potgieter het my in aanraking gebring met die UOVS waar ons persone opgelei en toegerus het met die Basiese Sertifikaatkursus in Teologie.
Ons het oor gemeentegrense gewerk en die VG Kerk, Anglikaanse, AGS en Onafhanklike Kerke se lidmate het deelgeneem aan die opleiding. Hierdie mense is vandag almal leiers in hulle verskillende kerke. Die afgelope twee jaar is 35 persone opgelei in Tuis-, Huis- en Gemeenskapsversorging.
Talle Bybelstudies is aangebied. Ek preek gereeld in verskeie kerke maar hou my by die Kerkorde en “doop” en bedien nie die “nagmaal” nie. Ek hanteer darem begrafnisse!
Daarom broers en susters van die Here wat seergekry het met die sinodebesluit hierdie jaar, onthou altyd, die Here is in beheer. As Hy jou roep tot watter amp ook al, gaan leef dit uit! Al lyk dit soms asof die stroom vanuit die Troonkamer nie sterk genoeg vloei nie, gaan loop maar in daardie stroom, al word net jou voete nat. Die Here verras telkemale.
Ek het baie teenstand in my lewe ervaar, maar die krag wat alles oortref om moeilike situasies te hanteer, kom van die Here af. Vandag het ek die voorreg om sinodes by te woon en is selfs skriba van ons ring! Kan jy glo?!
Moses en Johannes die Doper was die wegbereiders vir God se plan met Sy volk. So was vrouens in die amp voorlopers van ‘n aanvaarde praktyk vir vandag se lewe in die NG Kerk. Julle ook!
Johannes 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê!” Wêreld? Nie sommiges nie maar die wêreld!
Vriende, gaan leef jou roeping!
