Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mag ons almal aan onsself sterf

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Elna Schoeman van Delmas-Wes skryf:

Die NG Kerk sal ernstig moet gaan besin oor haar manier van sinode hou. Daar word te veel gepraat en meel gemaal.

Ek wonder of die eindelose gesprekke of selfs die kosbare oggend- en aandwydings enige sinodeganger van  standpunt gewysig  het.

Maandagmiddag  se opening was  inspirerend, maar die res  van die aand was ’n mors van tyd … toe die groot bulle as’t ware territorium afgebaken het.

Dinsdag was die gees positief en die gesprek sinvol. Die NG Kerk het heelhartig besluit die Skrif en daarnaas ons Belydenisskrifte is steeds die hoogste gesag.

By herhaling is ook genoem dat dit on-Bybels is vir Christene om mekaar hof toe te sleep.

Woensdag se wins na die eksegese (verklaar) en hermeneutiek (verstaan/toepassing) was die eenstemmigheid dat homoseksualiteit soos ons dit ken, presies is waarvan die Bybel praat, maar die spanning het opgebou.

Duidelik was daar diegene wat na die eerste gebod graviteer: Jy moet God liefhê met jou hele hart, en diegene wat na die tweede gebod graviteer: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Hoe trou jy

  1. die Skrif-uitsprake oor homoseksualiteit en eis tot gehoorsaamheid met
  2. die herhaalde opdrag van naasteliefde?

Na twee sinodesittings moet ons erken, ons weet nie.

Baie sinodegangers se hoop was ‘n besluit van “Let`s agree to disagree” sodat ons kan afstap van die saak en tog asseblief fokus op ‘n verloregaande wêreld.

Te laat Woensdagaand het te veel voorstelle met  amendemente op die tafel gekom … ’n kompromiepoging.

Oortuigend is groen gestem dat die enigste Christelike huwelik dié tussen een man en een vrou is. Daarmee is enige ander verbintenisse afgewys en kon teenstrydige voorstelle nie meer dien nie. Dalk was party onkant gevang en dit is waarskynlik waarom die stof nie wil gaan lê nie.

Baie vra: “Wat beteken dit?” Gay-lidmate bly welkom in die NG Kerk, ook as ouderlinge, diakens en predikante. Dieselfde geslag predikante mag egter nie trou en in die amp bly nie.

Lidmate verlaat die NG Kerk oor verskillende redes, ook omdat: “die NG Kerk bly toegee aan gays se eise en nie meer glo wat in die Bybel staan nie” en omdat “die NG Kerk veroordelend is teenoor gay predikante wat wil trou”.

Die 600+ bladsye se beswaarskrifte oor 2015 se besluit getuig van ’n stem wat tans baie stil is. Ek glo dis omdat Christene nie deur ander Christene as liefdeloos en veroordelend gebrandmerk wil word nie.

“Sien jy mens” dat die huwelik, die gesin, die kerk, die teologiese fakulteite en Suid Afrika in die moeilikheid is?

Mag ons almal aan onsself sterf en mag Christus in ons gestalte kry sodat ons sout en lig kan wees.

Mag die leierskap helderheid kry oor hoe sinodesittings behoort te funksioneer. Dalk benodig ons na die seisoene van “Luister” en “Menswaardigheid” ‘n seisoen van “Gehoorsaamheid”.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top