Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Voëls van die hemel

“Voëls van die hemel.”

So praat die 1933/53-vertaling van die Bybel in Afrikaans oor die voëls waarna Jesus in die berg­rede verwys.

Daar is geen ander groep voëls waarby hierdie be­skry­wing so goed pas as die windswaels nie. Eende is voëls van die water. Fisante is voëls van die grond. Rooi­vinke is dikwels voëls van die riete. Maar windswaels is voëls van die hemel.

’n Mens sien hulle in die lug waar hulle vlieg. Hulle gaan sit nie op ’n tak of ’n telefoondraad of op die grond nie. Die enigste plek waar hulle wel gaan sit, is hulle neste.

Daar is windswaels wat buite hulle broeiseisoen maan­de lank in die lug leef. Hulle slaap selfs in swerms wat hoog, buite sig, in sirkels sweef.

Hulle eet ook in die lug. Mikro-klein goggatjies wat in die lug ronddryf of vlieg en wat te klein is vir ’n mens om van die grond af te sien. As jy opkyk na die wind­swaels wat rats deur die lug blits om hulle mae vol te kry, sien jy hulle jag, al sien jy nie wat hulle jag nie.

En dit is die punt. As ’n mens opkyk na die blou lug sien jy nie dat daar kos is vir die windswaels nie. Maar dáár, daar waar ’n mens dit nie kan sien nie, daar voorsien die Vader ’n feesmaal vir die windswaels.

So eggo die skepping die boodskap van die Skepper. So word Jesus se woorde ’n aanskouingsles.

“Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” vra Jesus.

Vir gelowiges is dit ’n wonderlike boodskap van troos. God sal sorg, al kan ons dit nie nou sien nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top