Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ds Chris Smith van NG Westonaria skryf:
Toe ek verneem van die konferensie van Excelsus oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie, het ek dadelik ingeskryf. Almal besef, na die vorige Algemene Sinode van 2016, dat hierdie tans die groot probleem in die kerk is. Selfdegeslagverhoudings was maar net ’n simptoom van hierdie dieperliggende verskil. Ek glo werklik dat die eenheid en krag van die NG Kerk gaan kom deurdat ons mekaar vind rondom die Woord en die hantering daarvan.
Diep was my teleurstelling egter toe ek verneem wie die drie sprekers (James Kirkpatrick, Andries Kritzinger en André van Niekerk) was. Verstaan my goed, hulle is elkeen baie bekwaam en goed in hul vakgebied. Die probleem is egter dat hulle al drie net die een benadering verteenwoordig, soos gesien was by die debat rondom homoseksualiteit. Twee van die sprekers was juis op die Taakspan se verslag rondom Homoseksualiteit (2015). Dr Kirkpatrick is ook baie bekend vir wat sy siening is. Die konferensie is gereël deur dr André Bartlett, hoof van Excelsus, wat onlangs vereer is vir sy bydrae tot die erkenning van die regte van die LBGT-gemeenskap. Net een pool is sterk verteenwoordig. (Daarom die melding van die woord “exclusus”). Dit terwyl goeie eksegese juis ook ’n openheid behels om te luister na ander in die geloofsgemeenskap.
Daar was wel geleentheid vir bespreking. Dit opset was egter nie gebalanseerd nie omdat:
- Die ander verteenwoordigers/teoloë nie ook as sprekers genooi is nie, en
- Die persone wat daar was, eintlik net kon reageer op wat gesê is. Daar was nie geleentheid om die ander benadering in die kerk aan te bied nie. Dit word ook gesê agv die tydsindeling. Geleentheid vir luister na ander was daar nie regtig nie. Die inleier het 1,5 uur geleentheid gehad waarna die 40+ deelnemers 20 minute geleentheid gehad het om iets te noem/vra. Na die tweede spreker is selfs gesê: “Ons gee geleentheid vir een vragie”.
Van werklik wedersyds luister na die ander pool in die NG debat was daar nie sprake nie. Nie in terme van tyd of teenwoordigheid van leiers nie. Kan die leiers in die kerk en by fakulteite nie dalk eerder daaraan werk om mekaar te vind nie? In plaas van uitsluitend eie linies opstel of agendas bevorder.
