Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr James Kirkpatrick

Jesus, U gaan voor

“Die netjiese hantering van die Bybel bring hoop.” Dit was die tema van die NG Kerk in KwaZulu-Natal se jaarlikse predikantekonferensie. Die agtergrond was die diep verdeeldheid in die kerk oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. “Ons wil verstaan hoe julle hermeneuties dink. Ons wil verstaan hoe sulke verskille moontlik is,” was die boodskap aan die twee sprekers. Aan die een kant was dr Chris van Wyk, lid van die moderatuur van die Algemene Sinode en voorstander van die besluit van die buitengewone Algemene Sinode van 2016. Aan die ander kant was dr James Kirkpatrick, lid van die Algemene Sinodale Moderamen en voorstander van die besluit van die Algemene Sinode van 2015. NEELS JACKSON berig.


Sy verstaan van Jesus bring hom by die punt dat hy nie dink ’n verhouding van liefde en respek tussen twee mense van dieselfde geslag, is sonde nie, het Kirkpatrick gesê.

Kirkpatrick het benadruk dat hy nie met los teks­te werk nie. Hy het moeite gedoen om ’n siening van die Bybel teen te werk wat enkele tekste gebruik om argumente te ondersteun. “So mag ons nie met die Bybel werk nie,” sê hy. ’n Mens moet na die groot lyne in die Bybel soek.

Hy wys ook daarop dat die Bybel nie een netjies verpakte denkwyse bevat nie. Dit bevat verskillende sieninge wat met mekaar in gesprek is. So korrigeer Job van Spreuke se aansprake. Boonop is daar ’n groot gaping tussen die wêreld waarin die teks ontstaan het en die een waarin dit nou gelees word.

Nie elke woord in die Bybel kom van God af nie, maar dit is die Woord van God, die gesagsboek van die kerk waarin gelowiges vir God ontmoet, sê hy.

Kirkpatrick pleit daarvoor dat mense versigtig praat oor wat die Bybel sê. Hy vra vir minder sekerhe­de en meer verwondering.

In sy denke oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, is sy houding een van: “Jesus, U gaan voor. Ons volg in u spoor.”

Jesus sê almal wat moeg en belas is moet na Hom toe kom. Hy sal hulle rus gee. As Hy sê sy las is lig en sy juk is sag, dan praat Hy oor die wet. Jesus probeer mense se lewe lig maak. Hy werk met ’n bevrydende evangelie.

Lees ’n mens die Evangelie van Lukas, dan vind jy die uitreikende en insluitende Jesus daar. “Wat ek ook al sê, dit moet iets weerspieël van die insluitende Jesus,” sê hy.

Hy wys daarop dat die skrifgeleerdes God se heiligheid met groot ywer wou beskerm, maar dat Jesus heiligheid verbind met deernis en sagtheid. Hy leer mense om met nuwe oë na mense te kyk.

Dit is deur so ’n verstaan van Jesus wat die kerkverband hom laat lei het met die besluit van die Algemene Sinode van 2015. “Jy mag daarvan verskil, maar hoor ons dat ons motivering nie humanistiese sentimentaliteit was nie, maar die navolging van Jesus.”

Dit bring Kirkpatrick ook by die goedkeuring van verhoudings van liefde en trou tussen mense van dieselfde geslag. Dit is nie sonde nie.

Sonde is dit wat die goeie vernietig, wat stukkend maak. Dit is hoogmoed, hubris en oordeel. Dit is ’n gerigtheid weg van God en die medemens.

Lees ook dr Chris van Wyk se perspektief: Nie die liefde nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top