“Die netjiese hantering van die Bybel bring hoop.” Dit was die tema van die NG Kerk in KwaZulu-Natal se jaarlikse predikantekonferensie. Die agtergrond was die diep verdeeldheid in die kerk oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. “Ons wil verstaan hoe julle hermeneuties dink. Ons wil verstaan hoe sulke verskille moontlik is,” was die boodskap aan die twee sprekers. Aan die een kant was dr Chris van Wyk, lid van die moderatuur van die Algemene Sinode en voorstander van die besluit van die buitengewone Algemene Sinode van 2016. Aan die ander kant was dr James Kirkpatrick, lid van die Algemene Sinodale Moderamen en voorstander van die besluit van die Algemene Sinode van 2015. NEELS JACKSON berig.
Die liefde is nie die sentrale boodskap of skopus van die Bybel nie. ’n Mens moet eerder werk met ’n gedagte soos die Koninkryk van God, of met Jesus self as die oorkoepelende saak, het Van Wyk aan die Natalse predikante gesê.
In sy verduideliking oor hoe die Bybel gehanteer moet word, het Van Wyk gepleit daarvoor dat die Bybel binne die raamwerk van die belydenisskrifte gelees word.
Verder beklemtoon hy dat die Bybel die norm is. ’n Mens moet die konteks waarin die teks ontstaan het in ag neem. Maar uiteindelik is die teks self die norm. Dit kan ook nie getroef word deur die leser se ervaring of perspektiewe nie.
Elke woord van die Bybel moet gelees word in die konteks van die sin, die hoofstuk en die boek waarin dit staan. Dan moet jy terugwerk na die skopus van die Bybel toe – en dít is nie die liefde nie, sê Van Wyk.
Hy beklemtoon ook dat ’n mens die stem van die lewende God in die teks moet hoor. ’n Mens moenie net vassteek by dinge soos stylfigure en dan nie hoor dat God met jou praat nie.
Van Wyk sê die huwelik is een van die volmaakte uitdrukkings van God se wil vir die mens. Die verhouding tussen man en vrou is die hoogtepunt van die tweede skeppingsverhaal. Verder lees ’n mens dat God families seën.
Daar was egter van die begin af uitdagings. So lees ’n mens van poligamie onder Kain se nasate, maar nie onder Set s’n nie. Ook die aartsvaders worstel met poligamie.
Hy wys op twee ander verhale in Genesis. In Genesis 9 is Gam se optrede teenoor sy pa, Noag, meer as net kyk na sy naaktheid. Dit word deur sommige selfs as verkragting gesien, sê Van Wyk. In Genesis 19 se verhaal van Sodom en Gomorra gaan dit ook oor mans wat mans wil verkrag.
Volgens Van Wyk is dit die agtergrond van die tekste in Levitikus wat seksuele omgang tussen mans verbied. Dié tekste verbied alle omgang tussen mense van dieselfde geslag en bied weer die agtergrond vir 1 Korintiërs 6:10 en 1 Timoteus 1:10 wat selfdegeslagverhoudings verbied.
Van Wyk sien ook Jesus se opmerkings oor egskeiding in Matteus 19 teen die agtergrond van Genesis 2 as ’n bevestiging van die monogame, heteroseksuele huwelik. Dit laat mense, ook gay mense, net twee opsies: die huwelik of ’n selibate lewe.
Van Wyk sê Jesus se eis om volgelingskap is ’n radikale eis.
Lees ook dr James Kirkpatrick se perspektief: Jesus, U gaan voor.
