Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Reaksie: Kerk en Hof

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Frits Gaum van Glentana skryf:

‘n Paar opmerkings oor dr Chris van Wyk se brief in Kerkbode van 2 Junie 2017.

  • Dr Van Wyk meen verkeerdelik dat ek nie verlede jaar op die voorgeskrewe kerklike manier by die Buitengewone Algemene Sinode (BAS) van my laat hoor het nie. As dr Van Wyk ‘n bietjie moeite doen en deur sy sinodestukke blaai, sal hy afkom op my en my vrou, Henda, se voorlegging. Dit was maar een van talryke voorstelle/beskrywingspunte/versoeke die afgelope dekade en langer via die verskillende kerklike kanale om die gay-saak op die sinodes se tafels te kry en dit daar te hou.
  • Dr Van Wyk skryf dat ek en ander die afgelope jaar “dreig” om die kerk hof toe te neem. Hy vergeet dat die kerk maande lank verkeerde regsadvies (let wel!) gevolg het, die Algemene Sinode van 2015 se besluite foutiewelik opgeskort het (wat die moderamen later erken het), appèlle teen die besluite wederregtelik toegelaat het en skromelik versuim het om die 2015-besluite in werking te stel. Die kerk is toe daarop gewys dat die kerklike kanale uitgeput is en, ten einde regsekerheid te kry, die hof genader behoort te word. Sommige lede van die moderamen het saamgestem dat dit al uitweg is. Dit is toe nie in daardie stadium gedoen nie, maar die BAS se hantering van die appèlle verlede jaar het die moontlikheid om die hof te nader, weer vierkantig op die agenda geplaas.
  • Gepraat van die korrekte kerklike kanale. Was die hoogs omstrede “geslote” (sommige noem dit “geheime”) vergadering in Junie 2016 waartydens klaarblyklik stemming gemaak is teen die 2015-besluite, die korrekte kerklike weg om te volg? Dr Van Wyk was volgens berigte die voorsitter van dié vergadering en dit is bygewoon deur sewe van die tien streekmoderators.
  • Dr Van Wyk het beswaar teen die plasing van my artikel in Kerkbode van 19 Mei. Hy reken die redakteur moes dit nie geplaas het nie. Maar dr Van Wyk, dis bloot goeie joernalistiek om ruimte te gee dat verskillende kante van ‘n saak in die kerkkoerant (of in enige koerant) gestel word. Die redakteur doen dit nougeset. Daarom gee hy vir my kans, en ook vir jou.
  • Dr Van Wyk sluit sy brief af met ‘n interessante sinnetjie: “Dit (gebruikmaking van die kerklike kanale) is hoe dit hoort tussen kinders van die Here”. Nou wonder ek: Hoort dit tussen kinders van die Here dat sommige van hulle ‘n streep trek deur besluite wat die menswaardigheid van ander kinders van die Here in elke opsig erken? Dis wat nou gebeur het. Ek glo nie, dr Van Wyk. Ek glo nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top