GOD, GAY, GENADE
Deur Retha Benadé
Uitgegee deur Naledi, 2017
Die Vrystaatse Sinode het by sy jongste sitting gevra vir ’n rondte gesprek oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Ook in ander sinodes is sulke gesprekke aan die gang.
Omdat dit belangrik is dat daar ook in sulke gesprekke na die stemme van gelowige, gay mense geluister word, is Retha Benadé se boek God, gay, genade ’n belangrike boek. Sy vertel daarin haar storie. Maar haar storie is ’n tipiese storie van baie gelowige gay mense. Haar storie is ook baie ander se storie.
Enkele aanhalings om iets te illustreer van dit wat gelowige, gay mense beleef:
“Hoekom is ek so, wat is fout met my?” (p xv)
“My Christenskap het vir my ’n swaar las eerder as ’n vreugde geword.” (p 28)
“Vrees sou uiteindelik die fondament word waarop ek my Christenskap sou bou en waarop ek keuses vorentoe in my lewenspad sou maak.” (p 28)
“Eensaamheid het my partykeer ondergekry. Party dae het ek met seer wakker geword wat soos ’n kombers oor my gelê het.” (p 36)
“Dit was die begin van ’n al groter mate van selfveragting en selfverwerping.” (p 39)
“Die kerk het my meer en meer laat voel soos ’n mislukking en ek het myself alreeds so veroordeel.” (p 43)
“My naïewe antwoord was altyd net: ‘Vertrou op God, Hy sal jou nie ’n kruis gee om te dra wat jy nie kan hanteer nie.’ Baie vroom woorde, wat so Bybels en so reg geklink het, maar soveel skade aangerig het.” (p 63)
“Dis nou al sestien jaar dat ek met myself worstel en steeds is daar geen lig in die tonnel nie …” (p 90)
“Ek het God as ’n ‘boelie’ ervaar en daarom was dit met vrees dat ek Hom gedien het.” (p 101)
“Selfdood is nie toevallig nie. Selfdood vind dikwels plaas in die konteks van ’n gelowige gay persoon wat nie langer met die verwerping kan saamleef nie; die verwerping van geloofsgemeenskappe, maar ook die selfverwerping wat hulle ervaar juis omdat hulle die gemeenskap se verwerping internaliseer; wat nie langer die isolasie en eensaamheid kan verwerk nie.” (p 189)
Dit is nie mooi woorde nie. Dis nie maklik om daarna te luister nie, maar dis belangrike woorde want dis egte woorde. Dis woorde wat gehoor moet word in die kerk se gesprekke oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.
