ANOTHER COUNTRY: EVERYDAY SOCIAL RESTITUTION
Sharlene Swartz
Human Sciences Research Council, 2016
Antjie Krog se Country of my skull het my lewe na die Waarheid-en-versoeningskommissie ingrypend verander.
Die omvang van die onreg van apartheid het my in die maag getref. Ek het my eie posisie as bevoordeelde binne die apartheidsgeskiedenis herken en bely. Die morele verantwoordelikheid om jammer te dóén deur aksies van teruggee binne verhoudings oor rasgrense het my destyds tot drastiese lewensbesluite aangespoor.
Nou, byna 20 jaar later, op die hakke van die brandende #EverythingMustFall, vind ek sowaar weer ’n boek wat my tot aksie beweeg. Sharlene Swartz, sosioloog en akademikus, gee ’n rykdom inligting wat wanpersepsies en aannames uitdaag. Sy deel haar eie verstaan en verhaal van restitusie en dis inspirerend!
Maar dan – hou vas jou stoel – rapporteer sy deurlopend ook gesprekke oor die onregte van apartheid en restitusie met ’n diverse groep van 60 Suid-Afrikaners.
Ek hoor myself en ander in hul refleksies – die woede, ontkenning, blindheid, meerderwaardigheid, vrees, vermyding, bitterheid, verontmensliking, rassisme, vernedering, haat en pyn – dit klink so bekend.
Die ongemaklike vrae daag haar gespreksgenote, en vir my, uit om ons eie posisies binne ons sosiale konteks te bepaal. Deur die klassieke kategorieë van slagoffer, oortreder en toeskouer uit te brei met bevoordeelde en teenstander (resistor) verryk Sharlene die gesprek dramaties.
Die kompleksiteit van my landgenote se posisies verbreed my verstaan. Ek is telkens verras, veral deur die stemme van swart gespreksgenote. Ek sien hoe haar gespreksgenote tydens refleksie op konfronterende vrae, groei en hul posisies hersien.
Dit bevestig wat ek as sielkundige beleef, die krag van gesprek, veral as ’n ingeligte persoon die vrae stel. As kerkvrou met ’n sosiale geregtigheidsfokus sien ek wonderlike moontlikhede vir soortgelyke gesprekke vanuit die kerke.
Die boek bevat riglyne vir gesprek wat krities is vir ons kerkherenigingsprosesse waar die pynlike verlede van onreg en die gevolglike skreiende ongelykheid sentraal staan.
Hierdie boek het my verbeelding aangegryp! Met die lees van Country of my skull het ek snags geworstel met drogbeelde van geweld, skuldgevoelens, oneindige pyn en hartseer. Another country wat so duidelik praat oor ons, as witmense, se onverdiende bevoorregting en die skadelike effek daarvan op ons eie menswees, laat my snags droom oor al die maniere waarop ek my bevoorregting met swart Suid-Afrikaners kan deel. Dit maak my so opgewonde want ek kan getuig dat dit sal bydra tot my eie vermensliking!