Wes-Kaap Sinode: Nelis weer aan die stuur

“Dit is ’n reuse-voorreg, maar kýk, dis harde werk,” het ds Nelis Janse van Rensburg gesê net nadat hy Maandag 13 Mei as moderator van die Wes-Kaap Sinode herkies is.

“Kom ons bly vir mekaar bid vir toewyding en inspirasie. Kom ons bly bid dat die Heilige Gees ons sal bly waai na plekke waar ons nog nie was nie. Dat die Heilige Gees ons die waagmoed sal gee.”

Janse van Rensburg se gebedsversoek het ook by die sinode se tema vir 2019 – Volg Jesus met waagmoed – aangesluit.

Ds Nioma Venter, tans aan die stuur van Diaconia, is as eerste vroulike assessor van die sinode verkies.

Dié 48ste Wes-Kaapse Sinode is met gulle opstaan-en-groet by die konferensiesentrum van die Goudini-vakansieoord buite Rawsonville afgeskop.

’n Diverse groep sinodegangers het hierna met die vergadering van sowat 656 afgevaardigdes gedeel waarom hulle, ten spyte van hulle “uniekheid”, welkom voel.

“Die NG Kerk se diversiteit is ’n groot geskenk,” het dr Almatine Leene van die NG gemeente Stellenbosch-Wes gesê. “Ek voel welkom al is my eerste taal nie Afrikaans nie. En ek glo hier is nog mense vir wie dit geld. Ek is die Here dankbaar vir ’n plek in die NG Kerk terwyl daar in Tulpe-land geen plek vir my in die kerk is nie omdat ek ’n vrou is,” het die Nederlandse burger gesê.

“Die afgelope paar jaar het ek my eie broosheid meer beleef as in die res van my lewe saam,” het Nelis Janse van Rensburg gesê net nadat hy weer as moderator van die Wes-Kaap herkies is. Foto: Le Roux Schoeman

’n Predikantspaar, Dolf en Ankia du Plooÿ van Stellenbosch-Sentraal, het “kinderlose” afgevaardigdes verteenwoordig. Ankia, PSD vir vrouebediening, het gesê: “Ons is 14 jaar getroud, maar los ’n leë huis agter want ons het nie kinders nie.” Dolf het vinnig bygevoeg: “Ja, maar ons het gister ons hondekinders, Mila en Lika, na Ouma en Oupa in die Strand geneem.”

Ds Lou-Maré Denton, leraar van die NG gemeente Brackenfell, het vertel sy is ’n dagbesoeker omdat sy twee siek kleuters tuis het. “Almal wat hier is, maar bekommerd is oor hulle kinders of hondekinders by die huis – julle is welkom. Ek is dankbaar vir elke ouma wat help kinders oppas en vir ’n man wat baie hands-on is.”

Kerkbode blog hierdie week regstreeks vanaf die sinode.

Met groot geskitter, breek dié span nuus by sinode

Little Steeds is met ’n vonk tydens die tweede sessie op die eerste dag van die Wes-Kaapland Sinode by die vakansieoord Goudini Spa, bekendgestel. Sinodegangers is gevra om skitterstokkies (sparklers) aan te steek ter viering van dié inisiatief van Diaconia en Badisa. Little Seeds kan beskryf word as die mees omvattende diens van vroeëkinderontwikkeling in die Wes-Kaap.

Diaconia, die barmhartigheidsarm van die NG Kerk in die Wes-Kaap, het die afgelope paar jaar die “grond voorberei” om ’n gerekende rolspeler in vroeëkinderontwikkeling in die Wes-Kaap te word. En nou is dit tyd vir gemeentes om te help, het ds Nioma Venter, wat aan die stuur van Diaconia staan, aan Kerkbode vertel. – Jacobie M Helena