Sinode: ‘Belangrikste besluit’

“Ons maak vanoggend die grootste besluit van die sinode,” het Elize Klut tydens die laaste dagwyding by die Algemene Sinode in Benoni gesê.

“Die besluit behels om weer te kies dat elke sinode in Jesus bly en dat ons as kerk kies om in Christus te bly,” het Klut gesê nadat sy sinodegangers genooi het om stil te word na die afgelope besige vyf dae.

Klut het almal gevra om hulle oë te sluit terwyl sy Johannes 15:1-8 gelees het.

Sy het genoem dat ons as mense “taai maar so broos” is. “As jy vir drie minute nie suurstof kry nie, begin jou liggaam doodgaan. As jy drie dae sonder water is begin jou organe ingee. As jy drie weke sonder kos kan jou liggaam nie meer nie.

Maar ons het nog ’n belangrike bron van lewe, het Klut herinner. “Jesus is die een lewensaar wat maak dat ons ’n lewegewende verskil kan maak waar ons ook al is. In ons gemeente, gemeenskap en in Suid-Afrika,” was haar boodskap van oordenking.

’n Grafiese voorstelling van die dagwyding vanuit die sinode. Skets: Nico Simpson

#ekbly sou waarskynlik RSG se hutsmerk-weergawe van #Imstaying gewees het, het Klut gesê in verwysing na ds Almatine Leene se hutsmerk #ImstayingintheDRC wat sy vroeër vandeesweek tydens daginwyding met sinodegangers gedeel het.

Klut het gevra dat wanneer ons aan dié hutsmerk dink, moet ons dit ’n stap verder vat en onthou “die enigste manier hoe ons vrug kan dra is as ons aan lewensaar geanker is”.

#ekblyinChristus.