Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Robin Spengler (voor in die kapel met onderbaadjie) is ’n koördineerder by Boland Prisons Ministry en ’n bekende hier in die kapel by die maksimumsekerheidsentrum. Hy is een van die godsdienssorgspan by die Departement Korrektiewe Dienste (DKD) se medewerkers wat weer op sy beurt van Nehemia-Bybelinstituut (NBI) se kursusmateriaal vir gevangenisbediening met gevangenes behandel. Foto: Le Roux Schoeman

Maksimum genade

Nkosivumile White swaai sy arms omhoog in sy oranje uniform terwyl hy en ’n dosyn of wat medegevangenes praise & worship in ’n vertrek met ’n houtkruis teen die muur en ’n kringtelevisiekamera op die nok bo die preekstoel. ‘Maksimum’ hou kerk.

“O, Glorify,” sing White in ’n stem wat tesame met die ander mans s’n weer­galm deur die gange van Drakenstein-korrektiewe sentrum tussen Paarl en Franschhoek. As veroordeelde man agter tralies iewers in die Boland is White – gevangene nommer 216475223 – op sommige vlakke letterlik net ’n nommer vir die stelsel waarin sowat 29 000 gevangenes in die Wes-Kaap verkeer. Landwyd gesien, raak White se storie ’n nog kleiner deel van die narratief waarin Suid-Afrika se tronkbevol­king van ongeveer 172 000 gevangenes (98% mans) in sowat 241 sentrums aangehou word. En vir vele van ons buite die stelsel is selfs die kortste opsomming van sy verhaal genoeg … of reeds te veel:

  • Vonnis: Lewenslank.
  • Misdaad: Verkragting.
Tronkbesoek by Drakenstein

Ons is vroeg vir ons afspraak met White (35) want hoewel ’n mens verwag dat dit moeilik is om uit Drakenstein-maksimumgevangenis te kom, moet jy nie on­derskat hoe moeilik dit is om die tronk met ’n videokamera en notaboekie bin­ne te kom nie. “Wat u moet verstaan, is ons aanhouding is 575 en almal is hoë risiko classified,” verduidelik Jan Kotze, hoof van die sentrum. “Daar’s honderd iets in die tagtig verkragters,” voeg hy by. “Ons het ons bendes … Hulle is hier bin­ne. Maar ons probeer hulle bewe­gings minimaliseer.” Maar Kerkbode is nie vandag hier om oor die berugte tronkbendes te berig nie. Ons wil meer uitvind oor die geestelike bediening in ’n plek soos hierdie. Hoe werk dit? “In my 39 jaar (diens) het ek al gesien hoe iemand van 35, 40 jaar smag na iemand wat omgee vir hom,” vertel die tronkhoof. Só som hy sy aanslag op: “As jy die menslike benadering volg, kan jy tot die mens deurdring.” Tog is een van die opvallendste goed in ’n gesprek met Kotze sy eie geestelike oortuigings en geloofstyl. “Ons (begin) nie ’n dag son­der Christus se teenwoordigheid nie. My siening is vat eerder tien minute langer en spandeer (dit) met Christus en stuur die Heilige Gees vooruit binne-in jou tronk as om haastig in die gevangenis in te gaan om … jy kan dit noem Satan te gaan ontmoet binne-in jou tronk.”

Kotze sê daar is “baie demoniese magte in die plek” en beduie van agter sy lessenaar waar hy nou vir Kerkbode en ’n rits ander kollegas, wat spesiaal ingenooi is vir die gesprek, toespreek. “Daar is baie moorde gepleeg oor die jare. Daar is siele wat nie berusting vind nie,” vertel Kotze. Hy is een van ses kin­ders en oorspronklik van Clanwilliam. In sy loopbaan het hy al verskeie poste in Departement Korrektiewe Dienste beklee en eerstehands die verandering beleef in hierdie departement en hulle be­nadering tot oortreders, tot waar DKD vandag ten doel het om sentrums van herstel te wees – “moral regeneration” is die woorde wat ’n mens hoor in gesprek met DKD-werknemers. Kotze het deur ’n privaatuniversiteit teologie studeer tot op die punt waar hy speel met die idee om ’n meestersgraad te doen oor “die krag van gebed in geslo­tenheid”. Maar ons praat nie studies nie, ons praat praktyk. Godsdiens agter tralies. Eben Mourries is die kapelaan vir Drakenstein Bestuursarea en sy werk is die be­stuur van godsdienssorg vir ’n gevange­nisbevolking van so 2 000. “Ons beleid maak voorsiening dat alle ge­vangenes toegelaat word om hulle ge­loof te beoefen,” verduidelik hy. “In Dra­kenstein het ons so 44 verskillende gelowe en godsdienste, wat wissel van Christelik, Hindoe, Rastafariërs, ens.”

Dit blyk gou dat dit beslis nie ’n geval van hier ’n kerkdiens en daar ’n gratis Bybelkursus deur die pos is nie. Die bedie­ning word met byna militêre deeglikheid benader. “Ons kry targets van hoof­kantoor om te behaal. In 2019/20 moet ons 3 367 dienste hou,” verduidelik Mourries.”

Dis 866 kerkdienste oor vier korrektiewe sentrums, 1 100 groepsessies, (ons moet) 1 400 persoonlike onderhoude voer … daai een-tot-een met gevangenes.”

Mourries se werk verg uiteraard gees­telike aanvoeling maar ook fyn bestuur van ’n span voltydse geestelike werkers asook vrywilligers en dan nog diensverskaffers wat spesialiteitspro­gram­me in sentrums soos hierdie aanbied. “Deur Godsdienssorg het ons hier­die ding waar ons sê, DKD glo elke mens kan verander. En ons probeer daai verandering met alle rolspelers, intern en ekstern, te bewerkstellig.”

Mourries vergesel ons wanneer ons stap saam met White en ander ge­vange­nes na die kapel waar hulle blootgestel word aan Bybelskool. Die lesse word aangebied met leermateriaal wat deur Nehemia-Bybelinstituut ontwikkel is. Robin Spengler van Boland Prisons Ministry se preek is kort en kragtig dié dag. Hy praat luid, skreeu soms. Revival-styl. “We cannot be saved in our own strength. And we acknowledge that before you this morning, Lord. We ask you to have mercy on us,” bid hy voor hy die uitdeelstukke aan gevangenes uitgee en die Bybels oopge­slaan word.

Mourries praat nugter oor misdadigers en beliggaam ’n bediening op die oorvleuelingsveld tussen bekering en burokrasie. ’n Mens verbeel jou jy hoor in sy stem ’n realisme wat ’n mens kwalik op ’n ander wyse as deur jare se ervaring kan opdoen. “Hierdie gevangene het leed aan­gedoen aan gesinne, aan gemeenskappe. Maar hierdie gevangene was blootgestel aan bepaalde programme en dienste. Onder andere gods­dienssorg … Daar is ook sielkundige diens wat plaasvind. Daar is ook maatskaplike diens wat plaasvind. Hy kan skool toe gaan, daar is werkswinkels. Wat ons sê, is ons moet holisties hierdie man hanteer.”

Dan gaan hy verder. “Ons het suksesse. Daar kom daadwerklike verande­ring. Wanneer mense met hulle Skepper ontmoet … daar is verandering. Maar van die uitdagings is wanneer ons ge­vangenes moet uitgaan (vrygelaat word). Herintegrasie en nasorg is ’n groot uitdaging.” Mourries meen kerke het ’n groot rol om hierin te speel.

So, wat leer misdadigers soos White in die kerkbanke in die hart van ’n tronk en met parool wat vir vele jare en jare weg is? “Jesus says, when you go to give an offering, you can’t just give an offering but you have something against your brother,” vertel hy in sy sagte stem. “You need to go apologise first and then you come to give an offering. That means Jesus was showing us that forgiveness is an important thing.” White se gesig vertrek met erns wanneer hy praat oor vergifnis. Sy woorde: “But on their side, I can’t force them to forgive me.” Van sy slagoffer – sy dogter – het White nog nie gehoor nie.

NBI: Prison ministry is their passion

“We provide free correspondence prison ministry materials to offenders and spiritual care workers,” explains Valerie Hamann of Nehemiah Bible Institute (NBI) in Wellington in the Western Cape. “These programs reduce recidivism, teach life skills and draw offenders closer to God.

“We currently offer 29 prison ministry correspondence courses in 8 different languages. Once the offender has completed the program, he writes a test and returns it to us, after which we mark them and post their certificates to them, with a symbol,” she told Kerkbode, which is published by NBI’s parent organisation, Bible-Media (BM).

There are roughly 170 000 prisoners in South African prisons, according to NBI information, and through their work, they currently reach an estimated 16% of the prison population by sending out more than 10 000 books annually. “Our future goal is to reach 30%,” says Hamann.

Hamann’s team works closely with Athletes for Christ who are generous donors to NBI. Testimonies of the impact of this ministry are available to view on our website www.nehemiah.co.za or contact our offices, mrs Mercial Adonis at 021 864 8234, for more details.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top