Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Vrees laat ons dikwels selfsugtige dinge doen. Hoekom gaan koop mense uit paniek? Is dit omdat ons dink niemand sal met ons iets deel as daar ’n kosskaarste is nie? Is dit omdat ons bang is ons kry dalk niks en nou gun ons ander ook niks? Is dit omdat ons wil gaan wegkruip van hierdie groot uitdagings waarvoor ons staan? Is ons nie dalk al lankal siek en sosiaal gedistansieer nie?
Ons het ons skielik oornag in ’n vreemde werklikheid bevind waarin die naam COVID-19 op almal se lippe verskyn het. Die oomblik waarvoor ons staan, is gewigtig en ’n geleentheid vir die kerk om op te staan en balsem te wees.
Voor Jesus sy dissipels uitgestuur het, het Hy die menigte gesien en hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos.
Die beperkings gaan strenger word. Ekonomiese druk en werksverlies gaan toeneem. Beursies en koskaste gaan leër word. Geestelike en emosionele gesondheid gaan afneem. Baie mense gaan baie moeg en siek word. Hospitale gaan vol en medici moedeloos word. Mense gaan banger word.
Liefde verdryf vrees, sê die Bybel (1 Joh 4:18).
Wat as liefde ’n teenmiddel is?
Wat as ons nou die liefde vinniger kan laat versprei as die virus?
Hoe sal dit lyk as ons nuwe liefdesritmes inoefen terwyl ons doen wat van ons verwag word om die virus se verspreiding te vertraag?
Begin daagliks deur stil te word voor God en net voor Hom te wees.
Kies ’n teks om mee te reis deur hierdie tyd wat jou anker aan God. Lees dit met jou hart.
Lees die jongste nuus oor die virus en jou gemeenskap. Word stil by die sterfgevalle. Spreek hulle naam uit voor die Here. Bid vir daardie familie. Bid vir die gesondheidspersoneel en regering. Lees nuus net een keer op ’n dag.
Gaan sit by jou gesin en vertel vir mekaar wat in julle hart leef, wat julle verlang en waarvoor julle dankbaar is. Dra mekaar in liefde en bid vir mekaar. As julle siek raak versorg mekaar.
Maak saam kos. Hou mekaar vas en wees net bymekaar. Sit saam by die tafel. Steek ’n kers aan. Sê dankie en bid vir hulle wat swaarkry. Ruik, proe en geniet die kos. Vertel vir mekaar oor hoe julle julleself wil gee in diens aan julle naaste.
Spandeer tyd en geniet koffie tydens ’n video-oproep saam met ’n familielid of vriend. Vra hulle uit oor hulle gemoedstoestand en bemoedig mekaar. Sê vir hulle jy mis hulle en is lief vir hulle.
Gaan haal jou ondersteuningslys bestaande uit bejaardes, enkellopendes, siekes, enkelouers, weerloses en mediese personeel in jou gemeente. Skakel en sê dit is lekker om hulle stem te hoor. Vra uit na hulle gesondheid en waarmee jy kan help. Deel ’n teks en vra waarvoor jy kan bid. Gaan koop en neem wat nodig is. Maak kontak met jou geloofsgemeenskap.
Besoek jou gemeenskapsplatforms op sosiale media. Sien waar is nood en lewer opbouende kommentaar en bied oplossings. Kontak ’n organisasie wat dienste aan mense in nood verskaf. Sê vir hulle uit jou hart uit dankie vir wat hulle doen. Maak oop jou hart, beursie, koskas en klerekas. Deel versoeke met jou gemeente.
Dink oor ons land. Dink aan al die mense wat hier woon. Dink oor die ongelykheid, die onreg, die haat. Dink oor die uitbuiting van die skepping. Dink oor die selfsug en selfverryking. Dink oor jou leefstyl en aandadigheid. Dink aan oplossings en alles wat ons saam kan bereik. Droom oor ’n nuwe gesonde wêreld. Skryf dit in jou joernaal.
Druk jou vingers in die grond en voel die sonskyn op jou gesig. Roep die kinders, skop ’n bal en lê op julle rug en kyk na die wolke. Spring saam op die trampolien. Kyk mekaar in die oë.
Skiet popcorn en skop julle skoene uit. Lê saam op die bank. Kyk mekaar se gunsteling-flieks. Wees bly, want dit is die dag wat die Here gemaak het.
Doen dit alles. Doen dit elke dag.
Die virus het ons tydelik uitmekaar gejaag, maar miskien sal die virus help dat ons mekaar weer vind. Sal ons uiteindelik genees word as ons mekaar weer in liefde kan omarm as broers en susters?
Waar daar liefde is, is daar geen plek vir vrees nie.
God gaan met ons waar ons ook mag gaan.
- Ds De Villiers is ’n leraar by Groote Kerk in Kaapstad.