Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sorg: ‘Muisbesoek’ gedy en is hier om te bly

Inperking weens die Koronavirus het die pastorale verskynsel van digitale huisbesoek, oftewel “muisbesoek”, inderhaas laat gedy – en dit is waarskynlik hier om te bly.

“Covid-19 het ons gedwing om baie vinnig op ’n nuwe manier by ons mense uit te kom. Nou kan ons oor groot afstande heen saam koffie drink en saam bid,” sê dr Roelf Opperman van NG gemeente Kameeldrift oor die nuwe geleenthede wat digitale huisbesoek bied. Een van hierdie gemeente se digitale bedieningsvorme is ’n nuusbrief getiteld Muisbesoek en is al vir minstens ses jaar aan die gang, vertel Opperman se kollega, ds Drian Viljoen. Maar die Korona-kluistering het inisiatiewe soos hierdie se status vir talle gemeenteleiers wat sukkel om kontak te behou met lidmate van “oulik” na “noodsaaklik” gelig.

By NG gemeente Margate kommunikeer die leraars weer met die gemeente deur WhatsApp-groepe, vertel ds Lerisa Meyer: “Ons doen gewoonlik tradisionele huisbesoeke in ons gemeente. Die gemeente het gelukkig deur die WhatsApp-groepe die vrymoedigheid om ook individueel met my te kommunikeer. Die pastorale versorging word ook digitaal deur die ouderlinge in die wyke gedoen.”

Prop Melanie Thirion, wat by NG gemeente Kenridge in die noordelike voorstede van Kaapstad bedien, vertel hoe effektief digitale huisbesoek in ’n krisistyd soos hierdie is: “Só het een van hierdie video-oproepe my tot in die huis van ’n moedelose ma gebring, wat vir die afgelope week nog nie kontak met die buitewêreld gehad het nie. Haar kinders suig elke greintjie van haar energie en sy is oorweldig en uitgeput. Die video-oproep was ’n broodnodige konneksie wat haar isolasie gebreek het, en sy kon vir ’n oomblik asemhaal,” vertel Thirion.

Ds Coen Sutton, emeritusleraar by NG gemeente Drie Riviere, meen leraars kan dankbaar wees vir sosiale media wat as middel in diens van die Woord sinvol benut kan word om lidmate geestelik te versorg. Dít is vir Sutton veral nodig in die buitengewone omstandighede wat die wêreld tans beleef. Hy glo egter nie dat digitale kontak op die langtermyn tradisionele huisbesoek by lidmate kan vervang nie.

Intussen toon interessante navorsing oor verbruikersgedrag in ’n tyd van Covid-19 hoe die pandemie bestaande tendense bloot versnel. Veral e-handel word omhels in hierdie tyd, met 84% van alle aanlynverbruikers in China wat tydens hulle afsonderingstyd ten minste een nuwe aanlyndiens op die proef gestel het, volgens data wat deur die navorsingsmaatskappy Kantar gepubliseer is. Aanlynwinkels sien ’n toename in aanvaarding van hulle dienste deur verbruikers vir wie hierdie gewoonteverandering vroeër ongemaklik en duur gevoel het,” verduidelik die Kantar-span oor hulle voorlegging uit die Kantar SA Barometer Maart 2020.

Thirion sê digitale huisbesoeke is ook uitdagend: “Met twee kinders in die huis is die videobesoeke wel nie maklik nie, want kinders en skerms is soos twee pole van ’n magneet. Hulle plak aan mekaar vas! Na vele kere se ‘Gaan speel, Mamma is besig’, het ek ingegee en vir Zia, ons dogtertjie, saam laat huisbesoek doen. Dis veral effektief by mense wat ook kinders het. En so het die kinders ook begin om mekaar te bedien. Só skep ons community vir mense. Jy weet nie wat jy kry wanneer mense jou video-call antwoord nie, en dit gee die kerk die geleentheid om mense te bedien in hulle beste of slegste oomblikke,” sê Thirion.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top