Die Hoërskool Durbanville se koor het tydens die Covid-19-pandemie besluit dat die grendeltyd hulle nie sal keer om te sing nie. Die koor, sowel as sommige van die skool se oudleerders, het saamgespan en deelgeneem aan ’n virtuele koorprojek waar hulle Psalm 134 opgeneem het. Elke koorlid het hulle deel apart opgeneem en die klank en video is verwerk tot ’n virtuele skepping wat aanlyn gedeel is.
“Die koor sing dié lied al van 2014 af elke jaar: voor ’n optrede, na ’n optrede, as dit sleg gaan met iemand, as dit goed gaan met iemand, as ons moet afskeid neem van iemand – noem die geleentheid en ons sing dit,” vertel die koor se dirigent Maria Rademan-Viviers.
Maria was self ’n leerder aan die Hoërskool Durbanville in die noordelike voorstede van Kaapstad, waar sy deesdae die koor afrig en ook ’n onderwyser is. Sy het BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestudeer en daarna haar onderwysdiploma aan die Universiteit van Kaapstad verwerf.
“My droom was om eendag by Hoërskool Durbanville skool te hou en ’n koor te stig, want toe ek op skool was, was daar nie ’n koor nie.”
Sy was destyds onder meer deel van die Tygerberg Kinderkoor onder leiding van Hennie Loock, die Suid-Afrikaanse Jeugkoor en die Universiteitskoor van die US, onder leiding van dirigent André van der Merwe.
“Ek het Psalm 134, wat verwerk is deur André van der Merwe, in die Stellenbosch Universiteitskoor gesing in 2010 tydens ons heel laaste optrede. Dit is die mooiste lied, en al het my trane die dag gevloei sal ek altyd daardie lied in my hart koester,” vertel sy.
Maria vertel die proses om die algehele video aanmekaar te sit was uitdagend en dat sy omtrent moes kophou. “Om 104 video’s in te samel en dit dan in een video te vermeng is geen grap nie!
“Gelukkig het ek ’n wonderlike klankingenieur, oud-Durbie Loui Griebenow, wat my begelei het in die taak en die klankvermenging van die video behartig het,” sê sy.
“Ek het vir elke stemparty ’n klanklêer gemaak met net ’n klavier wat speel en dan ook ’n video waar ek saam sing, sodat hulle die musiek kan oefen. Hulle moes dan met ’n selfoon ’n video-opname van hulleself maak wat die lied sing.
“Al het hulle die lied geken, was dit nogal senutergend vir hulle om die opname te maak. Dit is baie blootstellend en omdat dit op ’n selfoon opgeneem is, klink dit nie soos dit in die werklikheid sou klink nie – ek moes maar soms mooi aanmoedig.”
Nadat al die video’s ingesamel is, moes die algehele video aanmekaar gesit en geredigeer en gesinkroniseer word.
“Die lekkerste deel is wanneer jy uiteindelik daardie video met die klomp blokkies sien met al jou koorlede in – dan loop my beker behoorlik oor.”
Alhoewel dit harde werk was, is Maria trots om die eindresultaat te deel en trots op elkeen wat deelgeneem het. Sy glo dié lied spreek tot almal gedurende hierdie uitdagende tye.
“Ons het die lied opgedra aan ons land, ons gesondheidswerkers, ons skoolpersoneel en in besonder die skoolhoof, meneer Coenie Venter. Die onderwys staar ’n groot taak in die oë en ek glo soos Psalm 134 vra – die Heer se seën sal op almal daal.”

Aangrypend !
Wat ‘n Belewenis om Dwarsdeur Covid 19 Geseënd te wees
om skepping soos Díe na te luister!! Baie dankie Maria en Koor
Mag VADER jul beskerm en ryklik Seën!!!!
Wat ‘n wonderlike voorreg het die kinders en die skool nie in die persoon van Maria Rademan-Viviers se onderrig nie! As sy al op skool kon droom daarvan om eendag by dié skool onderrig te gee, dan was sy so te sê ‘n gebore onderwyser en dirigent. Dit is duidelik dat hierdie inperkingstyd een voordeel inhou naamlik om die woord van God op ‘n baie kreatiewe wyse te versprei en beskikbaar te stel.
Ek het vier kinders. Almal volwassenes waarvan drie van hulle in die LEVI koor van TUKS gesing het. Hulle was ook ‘asemrowend’, maar hierdie gaan tot by Fil 4:7 ‘wat alle verstand te bowe gaan’.