’n Kerkleier in die Oos-Kaap wat ongemaklik was oor ’n foonoproep wat hy ontvang het, het ’n pastorale skrywe aan kollegas gerig oor wat hy as ’n mobiliseringsveldtog deur Kairos Netwerk (KN) bestempel.
“Ek is nie gemaklik met die modus operandi nie, om – sonder die medewete van die betrokke sinodale leierskap – leraars te kontak om hulle teen sinodale strukture te ‘mobiliseer’,” skryf ds Jasper Louw, voorsitter van die Sinodale Kommissie van die NG Kerk in die Oos-Kaap.
Lees ook: ‘Wegbreek-praatjies benadeel kerk se beeld’
“Dit het onder my aandag gekom dat van ons predikante telefonies gekontak word … Ek het ook op Woensdag, 17 Augustus, so ’n oproep ontvang!” skryf Louw op 18 Augustus op NG Kerk in Oos-Kaapland se webwerf.
In sy skrywe vertel Louw die dominee wat hom gebel het, het hom vertel dat KN nou op die Oos-Kaap fokus. “(Hulle) doel is om predikante en gemeentes wat wil doleer, by te staan en met raad te bedien … Hulle gebruik veralgemenings soos dat ‘baie’ predikante in die Oos-Kaap glo die Algemene Sinode is besig met dwaalleer. Hierdie veralgemening is beslis nie waar nie!”
Lees ook: Al die jongste Vakatures en loopbaangeleenthede
Louw het aan Kerkbode gesê: “Dít is nie hoe die NG Kerkfamilie in die Oos-Kaap dinge doen nie. Dit maak mense net verder deurmekaar. In ons gebied het ons ’n kultuur van vir mekaar omgee … ons praat dinge met mekaar uit … dit is nie nodig dat drukgroepe van buite kom nie.”
In die brief waarsku hy: “Hierdie soort aksie bevorder skeurmakery en oortree die ooreenkoms tussen leraars om nie buite die grense van hulle eie gemeentes op te tree nie, in elk geval nie sonder die toestemming van die betrokke kerkrade, en per implikasie, in hierdie geval, die sinodale kommissie nie.”
Lees ook: Dana Snyman oor ds Weich en die San-mense
Kairos Netwerk se voorsitter, dr Anton Knoetze, ontken dat daar ’n mobiliseringsveldtog is. “Kairos Netwerk wil dit onomwonde stel dat daar nie ’n ‘werwings’-aksie in Oos-Kaapland is, soos wat beweer word nie. Daar sal egter voortgegaan word om onbeskaamd te getuig van die geïnspireerde Woord wat aan ons gegee is om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek (2 Tim 3:16).” Knoetze wou weet watter kerkordelike beletsel lidmate of predikante verhoed om met lidmate en predikante in ander sinodale gebiede in gesprek te tree.
Knoetze sê ook: “In die skrywe … word die beskuldiging van skeurmakery genoem. Dit moet egter baie duidelik gestel word dat dié bewering van alle waarheid ontbloot is. Hy moedig lidmate, gemeentes en ringe aan om hulle besware op ’n kerkordelike wyse onder die aandag van die Algemene Sinode te bring.
Lees ook: Al die jongste briewe en lesersbydraes
Daar is tans 77 dolerende gemeentes in die land waarvan vyf in die Oos-Kaap is volgens die lys wat Kairos Netwerk op hulle webblad byhou. “Doleer” is ’n ou gereformeerde tradisie waar gemeentes amptelik aandui hulle ‘treur’ oor spesifieke besluite of optrede van die kerkleierskap en onttrek daarom van deelname aan kerkleierskap-aktiwiteite en/of weerhou hul finansiële ondersteuning.
“Ons is wel bewus van enkele gemeentes wat ongelukkig is oor sekere besluite van die Algemene Sinode, en ons was al persoonlik in gesprek met enkele van hulle. Van grootskaalse dolering is daar geen sprake nie,” skryf Louw aan sy kollegas.
Sou daar leraars wees, “wat probleme het met sekere besluite van die Algemene Sinode of vermoedens het van ‘leerdwaling’”, nooi hy hulle uit om met die sinodale kantoor te skakel dat daaroor gesels kan word.
