Die foto wat Pa op ds Ferdie Weich se sendingstasie op Tsumkwe in die ou Suidwes-Afrika geneem het, lê nou al vir lank op my skryftafel. Ek het dit tussen Pa se skyfies gekry en het ’n afdruk daarvan laat maak.
Op die foto staan vyf mans in die veld. Boesmans. San-mense. In broeke en hemde. Vier van hulle dra ’n hoed.
“En hierdie is ds Weich se bekeerlinge,” hoor ek Pa nog sê wanneer hy die skyfie vir mense gewys het.
Tsumkwe is so 280 km noord van Grootfontein waar Pa toe predikant was. Byna die helfte daarvan was ’n tweespoor-sandpad. Pa het maklik vir twee of drie dae weggebly wanneer hy na ds Weich toe is.
LEES OOK: As ’n preek jou bang en leeg maak
Minstens een keer per maand het ds Weich en sy vrou Muriel Grootfontein toe gekom om voorrade te koop, altyd met een of twee Boesmans saam met hulle. Ek was vyf, ses jaar oud en het net brokstukke in my geheue daarvan oor: Ds Weich se International-bakkie met ’n seilkappie. Ma wat een aand vis vir aandete gaarmaak en toe ds Weich – hulle het gewoonlik by ons in die pastorie oornag – die vis vir die Boesmans neem, wou die Boesmans dit nie eet nie. Ma wat daarna altyd vir mense sê: “Boesmans eet mos nie vis nie”.
Ook onthou ek die harde, wit kurkhoed wat ds Weich byna pal opgehad het – ’n pith helmet soos dié wat ontdekkingsreisigers gedra het. Sien ek ’n foto van David Livingstone of Henry Morton Stanley met ’n pith helmet op, dink ek aan ds Weich.
Ds Weich wás nogal die Livingstone van daardie stuk gramadoelas noord van Grootfontein, anderkant Maroelaboom. Hy het in 1961 op Tsumkwe gekom om sendingwerk onder die Boesmans te doen. Daar was toe nie veel meer as ’n boorgat nie. Dit was staatsgrond, myle en myle se woeste bosveld waar die leeus en olifante wild geloop het. Beboomde wêreld: maroela, tambotie, dolfhout, huilbos.
Net ’n klomp Boesmans het daar gewoon en nie almal op een plek nie. Baie van hulle het nog velklere gedra en die mans het met ’n pyl-en-boog gejag. Hulle het agter die wild aan getrek. Maar dit het oor die jare heen al moeiliker vir hulle geword. Die grond is omhein en hulle jagvelde het kleiner geword. Die sendingstasie het vir hulle ’n oase geword.
Partykeer het ds Weich vir ons van daardie pyl-en-boë van Tsumkwe af gebring – elkeen met ’n koker vol pyle daarby. Ek weet nie of die kerk dit by die Boesmans gekoop het en of ds Weich dit namens die Boesmans verkoop het nie. Ma het eenkeer vir Oupa-hulle ’n pyl-en-boog as geskenk per vragpos Hibberdene toe gestuur.
Op ons stoep het so ’n pyl-en-boog en ’n koker aan ’n spyker gehang.
Ds Weich het mettertyd die Boesmans se taal – die !Kung-dialek – vlot leer praat. Ek hoor nog die klik-klak van die gesprekke tussen hom en die Boesmans wat saam met hulle Grootfontein toe gekom het. Ds Weich het soos ’n Boesman geklink en dit het vreemd gevoel om ’n wit oom só te hoor praat.
LEES OOK: Kanniedood karretjie hoop alles, verdra alles, glo alles
Wanneer mense ’n Boesman-dialek met mekaar praat, klink dit of die veld saampraat. Daardie klik-en-klap-klanke het iets in van voëls wat tjirr en ’n duiker wat teen ’n koppie uit hardloop dat die klippe spat.
Later het ek ook ’n paar !Kung-woorde geken, wat ek geleer het by Nannie, ’n Boesmantjie op oorlede oom Danie Wepener se plaas, Veldduin, naby Maroelaboom. Ons het dikwels by die Wepeners gekuier en dan was Nannie my speelmaat. Nannie se pa het by oom Danie op die plaas gewerk.
Ek kan steeds van 1 tot 10 in !Kung tel, maar weet glad nie hoe om die syfers in !Kung te skryf nie. Ds Weich was ook ’n taalkundige Livingstone toe hy begin het om gedeeltes van die Bybel in !Kung te vertaal.
Hy het ook begin om geboue op Tsumkwe op te rig, want ’n sendeling preek dikwels ook in sement en stene en sinkplate.
Op die ou end het ds Weich die Evangelie van Markus in !Kung vertaal. Hy was lief vir die Boesman-mense en het baie aande saam met hulle om die vuur gesit en na hulle ou-ou stories geluister. Hy was goed vir hulle. Nes Pa is hy in 2010 oorlede.
Baie het op Tsumkwe gebeur sedert Pa die foto in 1965 of ’66 geneem het. Ek hoor Tsumkwe is nou ’n dorp.
LEES OOK: Dana onthou: Ma. Saam met mev Betsie Verwoerd nogal
In die laat 1970’s en 80’s het die Suid-Afrikaanse Weermag baie van die Kung!-mans as soldate opgelei om in die grensoorlog in die noorde van Suidwes te veg. Nannie, wat my in Kung! leer tel het, het ook ’n soldaat geword. Waar hy nou is, weet ek nie.
Ek kan my verkyk aan die foto. Die een man links voor het ’n spoggerige hoed op, van dié soort wat ouderlinge gedra het. Ek wonder waar het hy die hoed gekry, want dit is beslis nie ’n hoed wat jy toe op Tsumkwe sou kon koop nie. Miskien was hy een van ds Weich se kerkraadslede? En waar is die vroulike bekeerlinge?
Die outjie links lyk na ’n seun. Hy kyk nie na die kamera nie.
Net twee van die vyf kyk reguit na die kamera.
Ek wonder wat het hulle gesien toe hulle vir Pa daar voor hulle sien staan.
Dankie Dana vir jou mooi herinneringe storie van ds Ferdie Weich en die Boesmans van Tsumkwe. Toe ek in 1975 bevestig is as sendeling in die groot oop garage op die Takwasa sendingstasie in die Kavango noord van Tsumkwe, het ds Weich die moeite gedoen om by my bevestiging te wees
Al die vername dominees van Windhoek, Grootfontein en doktore en professor van die Teologiese skool van Orumana in die Kaokoland, het opgedaag.
Almal het mooi Skrifgedeeltes op papiertjies vir my gelees en aan my oorhandig. Toe is dit ds Ferdie se beurt. Hy het geen papiertjie gehad nie, my net vas in die oë gekyk en gesê:
“Kruger – al wat die Here van jou vra is nederigheid:”
Dit was al. Ek het lankal vergeet wat op die papiertjies geskryf was maar onthou nog ds Weich se paar woorde. Hoekom? Seker omdat hy nederigheid en afhanklikheid van die Here gemodeleer het.
Ek het ook tot onlangs nog Boeman Pyle en bogies met klein kokertjies gehad. Ek eer oom Ferdie se nalatendkap.
Baie dankie aan Dana Snyman vir hierdie Artikel. Die bediening in Tsumkwe gaan steeds aan. Al verskil is vandag is daar opgeleide San predikante wat self die werk doen.
Ek kon vanoggend vir Ds. Gerrie Cwi, die San leraar van Tsumkwe NG Gemeente hierdie artikel gee om te lees en te gaan oordra aan sy gemeente.
Ds. Gerrie en sy vrou Tiqua het gou hier by die DEGNOS kantoor op Grootfontein ingedraf om die maand se dankoffers te kom bank en om saam met ons n koppie koffie te drink.
Tsumkwe is vandag ‘n dorp, met ‘n kliniek en ‘n skool en ‘n paar klein winkeltjies. Daar is egter nog steeds nie enige kommersiële banke of groot winkels nie en maandeliks moet daar nog steeds die 280 km grondpad aangedurf word na Grootfontein om inkopies te doen en bank sake te hanteer.
Ds. Gerrie kon bevestig dat hy 4 van die 5 manne kon herken op die foto.
Die NG Gemeente Tsumkwe het nou 3 voltydse San leraars. Ds. Gerrie Cwi bedien Tsumkwe self, Ds. N!aici Komtsa bedien die Aasvoëlnes wyk en Ds. Leviet Xao bedien die //Goaguru wyk.
Andries Gous
Diens en Getuienis Noord Ooste Streek Namibia
(DEGNOS)