Hier staan julle met julle kerkhoede op, Ma. Saam met mev Betsie Verwoerd, nogal. Die eerste minister, dr HF Verwoerd, se vrou. In 1965. Of was dit in ’64? Ek is nie seker nie.
Lizette Murray het die foto onlangs vir my gestuur. Haar ma, tannie Nelie Vlotman, is ook op die foto. Tannie Nelie se man, oom Seppie, en Pa was destyds saam in die kweekskool op Stellenbosch.
Die foto is blykbaar geneem toe julle, die teologiestudente se vroue en vriendinne, mev Verwoerd by Groote Schuur, die eerste minister se ampswoning in die Kaap, besoek het. ’n Jaar of wat later sou julle nuwe, jong predikantsvroue wees. Pastorievroue.
Dit was duidelik ’n spoggerige okasie. Jy het jou handskoene saamgeneem, sien ek. Jy hou dit hier voor jou vas, en oor jou linkerarm hang jou handsakkie.
Het jy toe al gesorg dat daar altyd ’n boksie Mint Imperials-pepperminte in jou handsakkie is?
Ek onthou hoe jy Sondae, kort voor die oggenddiens begin, altyd jou handsakkie in die kerk oopgeknip en vir ons elkeen ’n spierwit Mint Imperial uit die boksie gehaal het. Hoe ons elkeen aan ’n peppermint sit en suig het wanneer Pa op die preekstoel klim, asof jy wou hê ons asems moet lekker ruik wanneer Pa die Woord bedien.
Ek dink aan soveel dinge wanneer ek jou daar regs van mev Verwoerd sien staan.
Hoekom sou julle die eerste minister se vrou besoek het? Was dit omdat sy, meer as enige ander vrou in die land, die een was wat met die grootste gesag vir julle kon vertel hoe om met grasie onderdanig aan jou man te wees?
Dit is wat jy vir so lank in jou lewe moes wees, Ma. Onderdanig. Mevrou Dominee.
Kyk hoe jonk is jy op die foto, Ma. Kyk hoe glimlag jy. Jy lyk gelukkig, al moes dit tóé al nie altyd vir jou maklik gewees het nie.
Pa was ’n ambagsman, ’n passer-en-draaier, by Yskor op Newcastle toe julle getroud is. Jy was ’n boekhouer by ’n onderneming, wat ’n rekenmeester wou word. Jy was goed met syfers, jy kon mooi sing, jy was kunssinnig.
Toe kom Pa tot bekering. Hoe het hy dit altyd gestel? “Ek het in een van dominee Attie van Wyk se pinksterdienste kragdadig tot bekering gekom. Ek het net geweet: Ek moet ’n predikant word. Dís my roeping in die lewe.” Pa se roeping, en jou plig as sy vrou, sy gade, om hom daarin te ondersteun, Ma.
Toe is julle mos Stellenbosch toe. Pa het vakansies in die myn gaan werk, maar vir sewe jaar lank moes jy grootliks sorg dat daar kos in die huis is. Dag na dag het jy met die trein van Stellenbosch af Maitland toe gery om ’n boekhouer by Van Riebeeck Verwe te gaan wees. Het jy ooit terug Newcastle toe verlang, Ma?
En toe kry Pa sy eerste beroep na Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika, en hy besluit julle moet soontoe gaan. Toe, skielik, moet jy gemeentebidure lei en kerkbasaars help reël en gemeentelede met waardigheid in die pastorie ontvang en onthaal.
Is julle, almal van julle hier op die foto, formeel voorberei vir die taak van Mevrou Dominee-wees, Ma? Ek twyfel. Ek het jou nooit van so iets hoor praat nie. Moes ’n besoek aan mev Betsie Verwoerd so half en half opmaak daarvoor?
Van Grootfontein af is julle Daniëlskuil toe. Ek krap anderdag in die trommel rond waarin ek van jou persoonlike goedjies hou en kom af op ’n brief wat tannie Rina Smit, sekretaresse van die plaaslike tak van die Vroue-Sendingbond (VSB), aan julle geskryf het toe julle op Daniëlskuil kom. 24 November 1969.
“Ons glo die Heer stuur u hier na ons omdat Hy vir u werk het om hier te kom doen,” skryf tannie Rina. “Namens ons VSB ook aan Mevrou baie dankie, want u word sommer outomaties die Presidente van ons tak …”
Soveel dinge is vanselfprekend van jou verwag, Ma. Net omdat jy die dominee se vrou was.
’n Mens kan nie regtig vir Pa daaroor kwalik neem nie, ek weet. Dit is hoe dinge destyds gedoen is. Die mans was in beheer in die Kerk, en die vrou se waarde was ver bo dié van korale. Miskien gaan dit in party gemeentes steeds so. Ek weet nie.
Natuurlik was dit ook nie net vir jou onaangenaam en ’n beproewing om Mevrou Dominee te wees nie. Vol geesdrif was jy die presidente van die VSB en die ACVV en die … Met hoeveel liefde en vreugde het julle nie geld ingesamel vir een projek na die ander nie: die bou van ’n nuwe tehuis vir bejaardes, ’n kombuis vir die kerksaal. Besoeke aan kinderhuise. Hoe gul het jy nie mense in die pastorie onthaal nie. Jy het baie vreugde geken in elke gemeente waarin ons was.
Maar ek ken ook jou stiltes, Ma. ’n Kind kyk sulke dinge nie mis nie. Ek sien jou nog party middae op die stoep sit, en die verte in staar.
Ek kan ook nie vergeet hoe jy party dae nie uit die kamer wou kom nie, hoe jy daar op die bed gelê het, met die gordyne dig toegetrek, en van jou senuwees gekla het.
Jy het soveel van jou eie drome afgelê vir Pa, Ma. Omdat jy lief was vir hom.
Kyk na julle hier op die foto, Ma. Kyk hoe glimlag julle. Het julle daardie dag vermoed wat nog alles vir julle voorlê?