Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die sowat 640 Afgaanse vlugtelinge wat Sondag 15 Augustus op Kaboel in ’n US C-17 Amerikaanse militêre vragvliegtuig saamgebondel het om uit die land te vlug. Foto: Defense One

Wêreldnuus | Taliban se oorname is ‘hartverskeurend’

Dit lyk soos ’n toneel uit ’n apokaliptiese fliek. Honderde paniekbevange mense hardloop saam met ’n Amerikaanse militêre vragvliegtuig en klou selfs desperaat aan die onderstel vas terwyl dit opstyg vanaf die internasionale lughawe by Kaboel, Afganistan se hoofstad, waar die militante ekstremistegroep, die Taliban, terug in beheer is.

Dié ontstellende video is een van vele wat sedert Sondag 15 Augustus die wêreld ’n blik gee op hoe bevrees duisende Afgane is noudat die Taliban, byna sonder teenstand, die land weer onder hulle beheer gekry het. Dit volg op die geleidelike onttrekking van Amerikaanse troepe uit die land sedert 1 Mei vanjaar – sowat 20 jaar na Amerika die Talibanbewind omvergegooi het in ’n weerwraakreaksie op die 9/11-terreuraanval.

Lees ook: Briewe | Inenting: Jou siening het implikasies vir ander en jou spiritualiteit

Die Taliban het van 1996-2001 ’n skrikbewind in Afganistan gevoer gekenmerk deur openbare geseling en teregstellings. Volgens hulle streng interpretasie van die Islamgeloof word vroue nie toegelaat om te werk of selfs sonder ’n manlike familielid hulle huis te verlaat nie.

Godsdiensvryheid bestaan nie in dié Moslemland van sowat 38 miljoen inwoners nie. Die klein minderheid Afgaanse Christene moet hulle geloof geheim hou uit vrees vir hulle lewe en dié van hulle gesinne volgens die webblad van Geopende Deure, ’n hulporganisasie wat vervolgde Christene wêreldwyd ondersteun.

Lees ook: Namibië | Toe word pastorie ‘Covid-hospitaal’

“Dit is ’n hartverskeurende dag vir die burgers van Afganistan, en selfs ’n meer gevaarlike tyd om ’n Christen te wees,” sê Broer Samuel, Geopende Deure se direkteur in Asië (’n skuilnaam weens veiligheidsredes). “Dit is ’n onseker tyd vir die hele land, nie net vir geheime gelowiges nie. Ons hart is gebroke. Ons het geweet dit gaan gebeur. Ons is nie verbaas nie, maar dit maak die pyn nie minder nie.”

Geopende Deure lys vyf maniere waarop gelowiges vir die situasie in Afganistan kan bid op hulle webblad. Lees meer hier: ‘5 Urgent ways you can pray for Afghanistan’

Afganistan is tweede op Geopende Deure se gebedslys van lande waar gelowiges vervolg word.

 

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top