Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

’n Kykie na die lewe in die ‘pastorie-hospitaal’ op Gobabis: Die kombuis was gedurig ’n miernes van vroue wat kos maak terwyl pasiënte deur familielede of lidmate versorg is, soos Jana Lottering wat daagliks by haar ouma Lukie was of Mariaan en Aletta wat hulle skoonpa Hennie van Niekerk se voete kom vryf het. Foto saamgestel

Namibië: Toe word pastorie ‘Covid-hospitaal’


Te midde van die hartseer weens die talle sterftes in hulle gemeenskap met die nuutste Covid-vlaag het Gobabis se pastorie as Covid-halfweghuis weer hoop gegee, vertel ds Peet van Zyl vir Heléne Meissenheimer.

“Weet jy, ek dink die goed wat ons as predikante in hierdie tyd hoop-loos en moedeloos laat voel, is die voortdurende getwis en uitmekaar-skeurende aanvalle op die kerk. Die kerk bly in die nuus vir die verkeerde redes … Hier in Gobabis het ’n ander storie egter voorbladnuus begin word … ’n storie van kerke en gelowiges wat hande vat en saamwerk.”

Hy en sy vrou Elma het die pastorie as halfweg-sorgeenheid aangebied ná Van Zyl by die kliniek gesien het hoe pasiënte buite in hulle motor of in die gang met suurstofbottels sit omdat daar nie meer beddens in die plaaslike kliniek se Covid -eenheid was nie.

Toe die gemeente sien die pastorie raak vol, is lidmate wat reeds Covid gehad het, in spanne opgedeel om te kom help met alles van pasiënte help bad en kosgee tot bloeddruk neem. Op ’n stadium het hulle 13 pasiënte in die huis gehad wat ernstig siek was. Van Zyl sê hy het later ophou tel hoeveel mense deur die “pastorie-hospitaal” is.

LEES OOK: Toe word die vakansie in ’n boks gepak

“Covid is nie net ’n fisiese siekte nie. Dit takel jou emosioneel en geestelik af. Dit is waar ons rol by die pastorie-hospitaal eintlik inkom. Ons dorp se dokters kom elke dag hier ‘saalrondtes’ doen. Hulle kyk baie mooi na die fisieke gesondheid van ons mense. Maar ons as gewone gelowiges kan ’n geweldige rol speel in die geestelike en emosionele heelwording van mense,” sê Van Zyl.

Vir een van die versorgers, Elize Booysen, het die ervaring haar nou oortuig om verpleging te gaan studeer. Sy het eers haar ouma en oupa in die pastorie help versorg toe hulle siek geword het, maar na hulle uit is, het sy aanhou kom. “In die begin was dit eintlik vir my nogal vreemd om in iemand anders se huis in te stap en te maak asof dit myne is … maar dit het eintlik my lewe verander. Dit het my gewys met vriendskap en heeltyd positief bly kan jy mense omdraai en vir hulle sê hoor hier dit kan nog werk, moenie nou opgee nie, jy het nog jou lewe voor jou,” vertel sy.

Aletta en Mariaan van Niekerk het saam hulle skoonpa, Hennie, kom versorg. Mariaan sê sy kon nie wag om in die aande na werk pastorie toe te gaan om te gaan help nie. “Om elke dag te sien hoe almal saam staan van heinde en verre. Ons was soos een groot familie. Dit het my ook net laat besef dat ek ook iets beteken vir die gemeenskap,” sê sy.

LEES OOK: Gemeente in Noordwes bedien gemeenskap met 13 suurstofmasjiene

“Om die mense elke dag te sien en met ’n groot smile uit hulle kamers uit te gaan en te sê: ‘Dankie Jesus, U het hulle nog ’n dag gespaar.’ As die mense hulle tassies pak om huis toe te gaan was vir my die dankbaarste tye en trane het geloop van blydskap,” sê skoonsus Aletta.

Vir sommige wat self familielede aan Covid verloor het bied die versorging van ander ’n vorm van terapie. Soos vir die 13-jarige Jana Lottering wie se pa aan Covid dood is en daarna het haar ouma Lukie Lottering siek geword. Sy het elke dag gekom en haar ouma se hare en naels versorg. “Jy kan jouself indink dat die tannie heeltemal op die lewe begin opgee het, maar daardie liefdevolle versorging van haar kleindogter – wat nou haar pa verloor het – het weer hoop gebring,” vertel Van Zyl.

Dit was vir Van Zyl soos die eerste kerkgemeenskap in Handelinge. Elkeen het gegee of gehelp volgens hulle vermoë. “Hier’s mense wat net eenvoudig in oormaat kos kom aflaai en ander wat weer die ‘rou’ produkte vat en kosmaak sodat ons dit aan ander kan uitdeel wat in die dorp by hulle huise siek lê. Dit is soos die verskeidenheid van die geestelike gawes … elkeen het ’n bydrae om te lewer,” sê Van Zyl.

Tussendeur het hy en die ander drie leraars op die dorp weekliks etlike Covid-verwante begrafnisse moes behartig. Die vier leraars het vir eers enige teologiese verskille bygelê en volgens ‘hulle gawes’ saamgewerk “want as jy alles self probeer doen val die pap op die grond,” vertel Van Zyl aan Lizelle de Bruin in ’n onlangse onderhoud op Sondagjoernaal.

“En as jy nou vir my vra of die intense verlies van lewe wat ons hier beleef het hoë emosionele eise aan my gestel het – dan is die antwoord JA. My hart is stukkend en ek huil saam met elkeen wat hierdie verlies beleef, maar hierdie stukkende hart het HOOP, want hierdie moeilike tyd het ons gehelp en in staat gestel om werklik KERK te wees. Nie net kerk waar ons Sondae mooi liedjies sing en mooi woorde preek nie, maar kerk soos aan die begin … in Handelinge.”

Dit blyk darem nou die ergste van die Covid-vlaag is oor in hulle omgewing, sê Van Zyl. Die beddens in die pastorie raak leër en die begrafnisse neem af. Hulle het ook reeds suurstofmasjiene en mediese toerusting oorgestuur na Botswana om die mense daar te help.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top