Huldeblyk: Mario Small (1968-2021)

Dit is met diep hartseer dat ons tyding van Mario Small se afsterwe deel.

Small was in vele opsigte ’n steunpilaar in Bybel-Media se Inhoudspan (Kerkbode en LiG), waar hy vir dekades as bladopmaker en in tegniese produksie gewerk het.

Meer onlangs het hy ook aan die digitale kant as tuisbladredakteur by www.kerkbode.co.za sy koel kop en flukse hand laat geld.

Small is Saterdag 6 November op Wellington in die ouderdom van 52 jaar oorlede.

Sy groot werk was as touleier van die tegniese produksiespan verantwoordelik vir die Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke. “Ai, Vriende, wat ’n verlies. Ons hart gaan uit na Mario se familie, asook die Bybel-Media-familie. Mario se heengaan laat oral ’n reuse-leemte,” het ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, in reaksie op die nuus op Facebook geskryf.

Saam het ek en Mario 50 uitgawes van die gedrukte Kerkbode na die rolpers gestuur. En vir vele van my voorgangers was hy eweneens ’n regterhand. Hy was doenig met hierdie einste uitgawe (Kerkbode van 19 November 2021) se bladplanne tot kort voor die naweek wat hy oorlede is. Soos ons hierdie berig skryf, is die presiese doodsoorsaak nog nie duidelik nie. ’n Huldediens word gereël hier op sy geliefde tuisdorp, waar hy iets van ’n instelling was soos hy in sy ou wit Mercedes rustig deur die strate sou rol, met ’n glimlag altyd gereed.

Ons innige meegevoel vir sy gesin en familie.

Ons groet ’n gewaardeerde kollega en ’n goeie vriend.

Word 'n vriend van Kerkbode