#KZN-vloedramp: ‘Stuur asseblief vir ons water’

KwaZulu-Natal is in ’n krisis gedompel deur die onlangse vloede. Die grootste behoefte is toegang tot water en elektrisiteit. Naas onmiddellike noodverligting ondersoek die plaaslike NG kerk ook ‘uit die boks’-maniere om gemeentes op die lang termyn hiermee te help.

President Cyril Ramaphosa het ’n nasionale ramptoestand verklaar weens die omvang van die vloedskade wat miljarde rande in die provinsie beloop. Brûe is weggespoel, paaie en munisipale infrastruktuur beskadig. Derduisende mense is dakloos gelaat.

Erger nog is die verlies aan menselewens. Meer as 440 mense is dood met talle wat nog vermis word. Op Vryheidsdag was verskeie spanne nog besig om na vermistes te soek.

Hierdie ramp, so vinnig na die verwoestende plundertogte verlede winter, het baie mense verby moedeloos, vertel ds Nola Malan, leraar by NG gemeente Durban-Oos, vir Kerkbode. In ’n onlangse brief (onderaan die berig) aan Kerkbode skryf sy: “In minder as twee dae het alle mense iets verloor – sommiges was of is sonder krag en water, ander is sonder hulle karre, baie mense het hulle huis verloor en amper 500 mense se lewe is kortgeknip … Die skade van hierdie ramp is iets wat KZN en haar mense nog lank in die oë gaan staar.”

Die grootste nood is tans water. In Durban kom en gaan die water, maar daar is gemeenskappe wat al vir meer as 10 dae nie water het nie. “Indien hulle kan bekostig om water te koop, is dit vinniger van die rakke af as enige ander hulpbron,” skryf Malan wat as skriba van KZN-streeksinode verantwoordelik is vir die strategiese administrasie van noodhulp onder gemeentes in die provinsie.

Sy verduidelik hoe dit werk: Verlede jaar met die onluste het die KZN-streeksinode die provinsie in vier streke verdeel. ‘n Sinodale ondersteuningsgroep, Help KZN, is gevorm met ’n verteenwoordiger uit elke streek daarop. Hier word inligting gedeel oor wat die nood in die streke is. Malan is die een wat die onderskeie verteenwoordigers kontak soos daar noodhulp ontvang word sodat hulle dit weer aan gemeentes in hul streek kan uitdeel.

Só is sy onlangs laat weet dat ’n stampvol dubbelkajuitbakkie met 80 5 liter waterbottels en sakke vol klere vanaf ’n NG gemeente in Pretoria op pad is. Die water was binne 24 uur uitgedeel, in Durban en in die suide van KZN.

“Die NG kerk werk ook baie nou saam op ekumeniese basis met die Raad van Kerke in Natal en so hou ons ons vingers op die pols,” se dr Mike Heaney van Margate gemeente wat die NG Kerk verteenwoordig by die KZN tak van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke.

Intussen help die regering ook met die weermag wat watertrokke aanry en is hulporganisasies soos Gift of the Givers ook besig om waterbottels by die vrag vol aan te ry na die provinsie. 

“Ons is baie dankbaar vir die hele SA wat ons help in dié moeilike tyd!,” sê Malan wat byvoeg dit is vir haar lekker om ’n terugkeer te sien van die saamstaan soos laasjaar na die plundertogte. “As ek twee bottels water het, gaan ek vir jou een gee … dis lekker om te sien ons staan together,” vertel sy.

Mense staan tou met emmers vir water by ’n watertrok van die weermag. Foto: SANDF/Twitter

Bekendes staan ook tou. Die sanger Bobby van Jaarsveld het onlangs op Facebook hierdie foto geplaas en genoem in Ballito waar hy en sy gesin woon is daar al vyf dae nie water nie. Foto: Facebook

KZN NGK wil ook help met boorgate sink en sonpanele opsit

Die NG Kerk in KZN het besluit om hierdie rondte strategies en buite die boks te dink, vertel ds Petrus Botha, wat Noord-KZN op Help KZN verteenwoordig, aan Kerkbode. Buiten om kospakkies en ander noodsaaklikhede te versprei, wil die sinodale ondersteuningsgroep, Help KZN, ook graag gemeentes help wat sonder krag of water is.

Dit wil hulle doen deur boorgate te sink en watertenke te installeer – alles op sonenergie gebaseer. “Sodoende kan ons water vir die hele gemeenskap verskaf, selfs sonder elektrisiteit. Hierdie areas loop elke paar jaar onder oorstromings deur en daarom wil ons hierdie meer permanente uitkoms daar stel,” skryf hy. Die koste hiervoor beloop egter ongeveer R300 000 per volledige installering.

Ook gemeentes wat reeds ’n boorgat en watertenk het, wil hulle help met omskakeling na sonenergie – wat ongeveer R15 000-R30 000 kos.

Persone of gemeentes wat hiermee wil help, kan bydraes maak in KZN Sinode se bankrekening. Die bankbesonderhede is: NG Kerk van Natal, ABSA, rek.no. 1140000082 met verwysing: KZN vloede.


Ds Nola Malan van Durban-Oos gemeente se brief aan Kerkbode:

Toe die eerste druppel reën, van ongeveer 300 mm, begin val het, ongeveer twee en ’n half weke terug, kon niemand die verwoesting en verlies voorspel het nie.

KZN word weer ’n rampgebied.

In minder as twee dae het alle mense iets verloor – sommiges was of is sonder krag en water, ander is sonder hulle kar, baie mense het hulle huis verloor en amper 500 mense se lewe is kortgeknip. Die mag van water is onderskat, maar dit gaan lank nie vergeet word nie.

Die mense se onmiddellike gevoel van hulpeloosheid het na vore gekom, asook die onverstaanbaarheid van die situasie.

Gemeenskappe is getraumatiseer deur die gebeure, asook ander in die nie te onlangse geskiedenis van KZN. Die skade van hierdie ramp is iets wat KZN en haar mense nog lank in die oë gaan staar.

Ons grootste onmiddellike behoefte is tans water. Baie gemeenskappe het vir meer as 10 dae al nie water nie en, indien hulle dit kan bekostig om water te koop, is dit vinniger van die rakke af as enige ander hulpbron. Klere en kos is ook nodig, veral vir mense wat hulle huis moes groet.

Indien u wil help, is daar verskillende maniere om dit te doen.

Indien u ons onmiddellike behoeftes wil verlig, stuur asseblief vir ons water, kos en klere. (Kontak vir ds Nola Malan of ds Marius Schoombie om reëlings te tref).

Ons hoop is om toekomstige nood in ons gemeenskappe te verlig, deur verskeie boorgate te sink. Indien u hiervoor geld wil skenk, sal ons dit waardeer.

Ons laaste versoek is dat u vir ons bid. Bid vir ons gemeenskapsleiers, ons dominees, ons mense. Ons het seer. Ons is rou. Ons is moeg.

Mag God Afrika en haar mense seën.

Word 'n vriend van Kerkbode