Hierdie skrywe is deel van Kerkbode se nuwe gespreksforum vir teologiese studente. Hierdie afdeling is in ’n toetsfase. Bydraes word nie voor publikasie deur Kerkbode se proefleser versorg nie.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Eliza van Bredasdorp skryf: Sommige mense praat van ’n Damaskus moment in hulle lewens. In my lewe praat ek van my Lasarus ervaring. Bloot net vir die feit dat Lasarus 4 dae dood was voordat Jesus hom opgewek het en daardie 4 dae soos ’n ewigheid moes gevoel het vir sy familie. So moes ek 50 jaar wag vir die geleentheid om Teologie te studeer. Dis steeds somtyds moeilik, eintlik meer ondenkbaar om die woorde te kan sê: “Ek is ’n 3de jaar BTH Diensleraar student by Hugenote Kollege.”
IS JY ’n STUDENT? GESELS SAAM?
Die groei wat plaasgevind het in my persoonlik maar ook na buite is ongelooflik. Die geleenthede wat ons al gegad het om saam met ons dosente aan tafelgesprekke, lesings en konferensies deel te neem en selfs ’n bydrae te kon maak is iets wat ek nooit sal vergeet nie.
Dit het my lewe ongelooflik verryk. Die retraites wat ek saam met mede studente by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit kon en hopelik weer sal bywoon was van onskatbare waarde. Die “Resilliance” konferensie wat ons na die inperking na die eerste covid vlaag gehad het was ’n geweldige leersame ervaring. Om net te kon hoor hoe ander studente, nie net BTH studente nie, deur die inperking geraak was het my regtig met nuwe oë na ander se uitdagings laat kyk.
Die leer- en leeswerk is baie, en soms word jy buite jou gemak zone geplaas, die take en toetse is baie, veral omdat ek nog van 8hr tot 5hr elke dag werk, maar die vrugte wat dit voortbring is alles die moeite werd.
Dankie aan Hugenote Kollege, die Seminarium en al die dosente wat hierdie geleentheid skep om ons te help om getrou aan ons roeping te wees.