Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Daar is ook na die stemme van voormalige haweloses geluister tydens ’n onlangse konferensie oor haweloosheid wat in die Groote Kerk in Kaapstad aangebied is, luidens 'n verslag deur dr Braam Hanekom. Foto via Publiekegetuienis.org

Haweloosheid: Goeie data, sterk koalisies … en vuil hande

Samel betroubare data in. En benader die probleem holisties deur middel van koalisies.

Dit is drie praktiese aspekte wat blyk uit ’n onlangse verslag oor ’n gesprek wat begin soek het na toepaslike reaksies vanuit die geloofsgemeenskap tot die uitdagings van toenemende haweloosheid.

Die fokus was die Kaapse Metro, maar die temas was – ongelukkig – nasionaal relevant. “Haweloosheid is ’n simptoom van ’n gebroke samelewing waaraan ons almal behoort,” lui ’n uittreksel uit ’n voorlopige verslag wat onlangs deur dr Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis uitgereik is. “Dit is die resultaat van gebroke huisgesinne, gebroke gemeenskappe en gebroke en oneffektiewe strukture en instellings.”

Die verslag het gevolg op ’n konferensie oor haweloosheid wat onlangs in die Groote Kerk in Kaapstad aangebied is, in samewerking met die Sentrum vir Publieke Getuienis, MES, Straatwerk en nog verskeie rolspelers (wat ds De la Harpe le Roux van die Torings van Hoop-gemeente in Bloemfontein ingesluit het). Daar is by die geleentheid ook na die stemme van voormalige haweloses geluister, luidens die verslag.

Die doel is om die duisende haweloses in ons midde te help, maar nie vanuit ’n hoogte nie: “Die kerk sal op reis moet gaan en dit gaan vra dat ons fisies veel nader aan hierdie hawelose gemeenskappe sal moet beweeg,” luidens ’n versoek wat sedertien aan gemeentes uitgestuur is en wat Kerkbode graag hier eggo.

“Hoe verander ons ons eksklusiewe ruimtes na ware inklusiewe ruimtes? Die aanbod van oortollige kerkgeboue en -ruimtes is in detail bespreek, asook omvattende en holistiese strategieë wat kulmineer by die herintegrering van haweloses in die breë samelewing,” verduidelik Hanekom. “Ons soek dringend gemeentes wat bereid is om hulle hande ‘vuil te maak’ en in die ‘messiness’ van so ’n reis betrokke te raak. Dit hoef nie chaoties te wees nie. Ons soek gemeentes wat bereid is om klein lewegewende gemeenskappe te bou. Verhoudinge is hier die sleutel. Intussen moet ons veel beter data oor die uitdaging insamel en dringende gesprekke behoort nou met die stad te volg.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top