Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Versoening begin by ’n klein bietjie omgee

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Op 17 November, 25 jaar gelede, het ds Freek Swanepoel die NG Kerk tydens ’n getuienisgeleentheid vir kerke in Oos-Londen voor die Waarheids-en Versoeningskommissie (WVK) verteenwoordig. Om tot daar te kom was nie maklik nie omdat ’n groot groep binne die NG Kerk van mening was dat die kerk nie daar moes wees nie.

Hoewel die dag waarskynlik in 2022 deur min onthou word, doen dit nie afbreek aan die historiese belang van die geleentheid nie. Dit was ’n belangrike eerste tree vir die NG Kerk op die pad van versoening in ’n nuwe demokratiese Suid-Afrika. Hierdie stelling word bevestig deur ’n besluit van die Algemene Sinode van 1998 wat soos volg gelui het: “Die NG Kerk aanvaar sy groot verantwoordelikheid om saam met ander kerke in die land aan die volgende sake dringend aandag te gee: die bevordering van versoening, die bekamping van armoede sowel as die verval van morele waardes in Suid-Afrika.” Om konkreet aan hierdie sake aandag te gee, is ’n ad hoc kommissie benoem om die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) so spoedig moontlik met konkrete voorstelle te bedien. Die bal was aan die rol vir die “apartheidskerk” om ’n nuwe rol in Suid-Afrika te speel.

LEES OOK: Ja! Die NGK kan met geloofwaardigheid oor onreg praat!

Na 25 jaar is dit meer as ooit nodig dat daar in gemeentes van die kerk opnuut nagedink word oor versoening in ’n diep gepolariseerde samelewing. Hierdie nadenke beteken nie dat daar opnuut derms uitgeryg moet word en verskoning gevra moet word oor die verlede nie. Dit is al genoeg gedoen. Wanneer daar nagedink en gepraat word oor versoening is die groot vraag hoe lidmate in gemeentes gemotiveer kan word om hier en nou in 2022 agente vir versoening te wees.

Miskien is die eerste tree ’n klein bietjie omgee vir ander. In ’n dagblad skryf prof Lizette Rabe onlangs onder die opskrif: “Benodig: ’n Klein bietjie omgee, asseblief” hoe mense in die samelewing vasgevang is in die perfekte storm – hasies in die hoofligte. Die pad uit die storm uit, skryf die stigter van die Ithemba-stigting wat fokus op bewusmaking rondom psigiese gesondheid, is klein golfies van omgee wat saam ’n tsoenami van omgee kan word wat hierdie land ’n beter plek kan maak.

In sy voorlegging voor die WVK 25 jaar gelede het Swanepoel dit so verduidelik: “Vir die NG Kerk begin versoening by die opbou van mense. Naas die verkondiging van die evangelie vereis versoening die ontwikkeling van die mens se omgewing en praktiese lewensomstandighede. Aangesien persoonlike kontak ’n vereiste vir versoening is moet mense by mekaar uitkom.”
Nou, na 25 jaar, het die hasies in die hoofligte meer as ooit nodig om by mekaar uit te kom om te ervaar hoe versoening begin by ’n klein bietjie omgee.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top