Dit het geklink soos wanneer mens ’n koeldrankblikkie stukkend trap …
Só beskryf Pierre Genis van Brackenfell sy belewenis toe ’n groot denneboom dwarsoor sy werksbakkie geval en die kajuit so ingeduik het dat hy nie sy hand tussen sy gesig en die dak kon inkry nie.
Hy vertel vir Kerkbode daar is by hom geen twyfel nie. Dit is ’n wonderwerk dat hy met net ’n paar skrape uitgeklim het. Die werksbakkie is ’n wrak.
Genis en sy kollega was op ’n koue winderige Maandagoggend, 19 Julie, naby Nuweland in Kaapse spitsverkeer vasgekeer toe die voorval gebeur het. Foto’s van die verskrompelde bakkie is wyd op sosiale media gedeel, ook op die Facebookblad van Heidekoppie NG Gemeente in Brackenfell waar Genis al 22 jaar lidmaat is.
Só skryf Jackie de Klerk vandeesweek op die blad: “Pierre, een van ons lidmate het met geringe beserings uit die voertuig gekom. Ons loof die Here vir Sy grootheid en goedheid en dat Hy ons elke dag beskerm!”

Genis vertel vir Kerkbode hy het sy lewe voor sy oë sien verby flits toe hy sien die boom gaan op hulle val. Met voertuie reg rondom hulle Toyota Hilux-bakkie was daar nêrens om te gaan nie. “Ek het net vir my kollega gesê hou vas,” vertel die pa van twee tieners.
Sy kollega het ongedeerd uitgespring en het omgehardloop om Genis te help, maar kon nie die boom oplig nie. Hy het toe die deur aan die bestuurderskant oopgebreek dat Genis kon uitklim.
Na die tyd het hy een koppie koffie na die ander gedrink – 14 koppies vir die dag.
Genis vertel paramedici was vinnig op die toneel. “Hulle het verby my gehardloop na die bakkie om te kyk of hulle kan help. Hulle kon nie glo ek was die bestuurder nie en ek het net ’n paar skrape nie,” vertel hy verder en voeg by hierdie ervaring het ook sy perspektief op geloofsake verander.
“Jy glo maar wanneer so iets gebeur glo jy nie jy gaan dit maak nie … ek weet daar is net een Persoon om te bedank.”
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
