Vyf jaar gelede het hy gedink die NG Kerk de Duin op Gqeberha (Port Elizabeth) is amper op die einde van sy pad, maar vanjaar vier die gemeente 60 bestaansjare, skryf Herkie Fourie. Hy vertel hoe die gemeente verander het deur ’n “kultuur van luister” aan te leer.
Vyf jaar gelede was NG Kerk De Duin amper op die einde van sy pad. Soos ons dominee dit gestel het, hy het al meer lidmate begrawe as wat daar nog oor was. Al die lidmate was ouer mense. Jong gesinne het nie meer ingetrek nie. Daar was ook nie ’n skool binne die gemeente-grense nie en die gemeenskap het begin verengels.
Met die aftrede van ons dominee, het ek begin dink hoe die gemeente afgesluit moet word. Elke gemeente het seker maar ’n lewensiklus en by ons is dit seker nou die einde van ’n era? Dit is net ’n kwessie van tyd, het ek gedink.
In ons stad staan verskeie kerkgeboue wat in fabrieke of store omskep is nadat die ou woonbuurtes in besigheidsareas omskep is. My hoop was dat die funksionele kerkgebou darem deur ’n Engelse gemeente benut kon word.
Ons kry toe ’n nuwe dominee. So ’n drie jaar kontrak-dominee wat na aftrede soms nog betrokke bly. Ek was oortuig dat drie jaar ’n goeie tydsduur is om die gemeente finaal te sluit terwyl lidmate deel word van ’n buurgemeente. Vir my was dit nou byna vanselfsprekend.
Die nuwe dominee het egter ander planne gehad. Hy was nie bereid om die gemeente met ‘doodsbegeleiding’ toe te maak nie.
Die eerste ding wat my opgeval het was die kern teks of grondteks, wat hy vir die gemeente gegee het uit Ps. 1.
- “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie.
- Maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.
- Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.”
Die ‘boom by die waterstroom’ het ons logo geword.
Daar het egter ook iets anders gebeur. Ons geloofsgewoontes het verander (of is dit vernuwe?). Ons Bybelstudie het verander na “Wandel in die Woord”. My tipiese (protestantse) analise en beredenering van die Bybel het verander na: “wat hoor ek…” Miskien het ons geleer om meer te luister en minder te praat? Ons het geleer om te luister na God, na mekaar en na die gemeenskap.
Dit het die gevolg gehad dat ons “geroep en gestuur” as ons nuwe slagspreuk aangeneem het. Dit het die hele kultuur van die gemeente begin verander.
Ons het natuurlik ook op jeug en jong volwassenes begin konsentreer.
Ek kan vandag nie glo dat ek vyf jaar gelede gereed was om die gemeente toe te maak nie. Maar die ou ‘kultuur’ in daardie gemeente was nie ‘in pas’ met die ‘nuwe vereistes’ nie.
In ’n sekere sin het ons dus die ou kultuur toegemaak en ’n nuwe kultuur begin. Dit is presies wat gereformeerd beteken. Om te vernuwe. (nie altyd maklik nie!!)
Ons is nog lank nie klaar nie. Die verskil is dat ek nie meer die gemeente wil toemaak nie. Ek wil nou help bou.
- Herkie Fourie is leier van die kommunikasie en media-bediening in De Duin gemeente wat vanjaar hul sestigste bestaansjaar vier.
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.