Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Quinten Schimper

Stemme uit die sinode | Gedig: Huiwerige stottering

Deur ds Quinten Schimper

 

Stamelend en stotterend staan ek voor U, Heer:

met hande, gedagtes, huiwering na bo gekeer …

Die rooi see se besluite woed soos stormwater

waar gesprekke en debatte nie meer kan wag tot later!

 

Rustelose stemme eggo die na-nag deur

soos mense worstel en bid en vrees vir nog n skeur – 

tog hoor ons die stilte van u stem:

verlangend

verkennend

wat onrus in ons hart probeer tem.

 

Wys U die weg, loop U voor;

leer ons harte sien – 

hoor! en nie deurboor – 

Sal U saam met ons gaan?

Sal die kerk bly voortbestaan?

 

Van U wag ons, sugtend-afhanklik

vir leiding in menslike denke verganklik.

Voed ons met die vuur van geloof

waar gesprekke nie harte uitdoof;

raak ons aan met U gloed

vir die onrus wat in ons woed …

 

Met harte, gedagtes en oë na bo gekeer,

staan ons stamelend en stotterend voor U, Heer!

 

Ds Quinten Schimper is leraar van die NG Gemeente Rensburg in Heidelberg.

** Die berig is deel van ’n reeks getuienisse uit die sinode.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top