Die jaar 2024 het vir duisende mense in Japan meer rampspoedig as voorspoedig begin, skryf Stéphan Van der Watt* met verwysing na die kragtige aardbewing op nuwejaarsdag waarin meer as 200** mense dood, honderde beseer is met duisende huise verbrokkel en paaie omgedolwe.
Hoewel hulle self ver is van die gebied in die Ishikawa en Niigata provinsies op die Noto-skiereiland wat die ergste getref is, is hulle diep bewus van die nood en in solidariteit met die wat lei, skryf hy in Missie Japan se nuusbrief van 6 Januarie 2024.
Die ramp laat duisende mense in tydelike skuilings met die ergste winterkoue en sneeu op pad.
Twee gemeentes van die Reformed Church in Japan (RCJ) is in die rampgebied. Hulle leraars hou die RCJ op hoogte van behoeftes. So het ds Hideyuki Urushizaki (RCJ Kanazawa gemeente) reeds komberse, flitse, water, kos asook ander middele vanuit die gemeente help uitdeel waar nodig, vertel Van der Watt.
Daar is ook kerke in die Wajima gebied wat erg beskadig is en heelwat lidmate se huise is vernietig. Die RCJ se diakonale komitee is besig om volgende stappe van ondersteuning te ondersoek.
Lees meer hier.
* Stéphan Van der Watt is ’n voltydse dosent in Missiologie asook Pastorale Teologie en Sorg by Kobe Reformed Theological Seminary in Japan.
** In die nuusbrief word die dodetal op meer as 80 geskat. Latere nuusberigte skat die getal op meer as 200.
- Bronne: Missie Japan nuusbrief 6 Januarie 2024; News24;
- Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is.
- Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.